Sowat 31,4 persent van die hoërskoolleerders wat in Gauteng aan ’n opname deelgeneem het, het gesê mense wou hulle al teen hul sin aanlyn oor seks laat praat, is Dinsdag bekend gemaak.

Amper ’n kwart (22,8 persent) is aanlyn gevra om seksdade uit te voer, volgens die Jeugnavorsingseenheid (JNE) van die Buro vir Marknavorsing (BMN) aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

“Volgens prof. Deon Tustin moet die aanlyn seksuele voorbereiding van kinders beskou word as ’n besliste verskynsel wat ’n negatiewe uitwerking op die dag-tot-dag-funksionering van jong mense, gesinne en gemeenskappe het,” word in die ondersoek gesê.

“(Deon) wys verder daarop dat die intensiteit van die seksuele voorbereidingsproses daartoe lei dat sommige kinderslagoffers oorreed word om seksdade teen hul sin uit te voer.”

Die JNE het ’n opname onder 1 500 hoërskoolleerders in Gauteng gedoen.

Die ondersoek het gefokus op die aanlyn gedrag en risiko’s waaraan leerders blootgestel word wanneer hulle die internet en sosialenetwerk-webtuistes gebruik.

Altesaam 97,7 persent van die leerders wat aan die ondersoek deelgeneem het, het internettoegang gehad, terwyl 95,7 persent op verskeie sosialenetwerk-webtuistes geregistreer was.

Die ondersoek onthul 24,4 persent van die leerders is oorreed om seksdade uit te voer.

Altesaam 13,3 persent van die leerders het later teen hul sin seksdade uitgevoer. Van hulle het 48,2 persent ’n oop seksgesprek betree en 59,6 persent kaal of halfkaal foto’s van hulself geneem en gestuur.

Volgens die ondersoek het 18,8 persent van die leerders deur middel van ’n webkamera seksdade uitgevoer.

Die ondersoek toon 31,8 persent van die leerders wat aanlyn seksuele voorbereiding ervaar het, het die voorval aangemeld.

Amper vier uit elke 10 leerders (41,9 persent) het ’n onbekende boodskap of webskakel oopgemaak wat foto’s bevat van kaal mense of mense wat seks het.

En altesaam 43 persent van die leerders het gemeld hulle het al per ongeluk afgekom op ’n webtuiste met seksueel eksplisiete materiaal.

Die JNE-navorser Goodness Zulu sê dit is kommerwekkend dat 29,2 persent van die leerders met opset tot pornografiese materiaal toegang verkry het.

Van die leerders wat aan die opname deelgeneem het, het 77,6 persent pornografiese webtuistes af en toe besoek en 9,1 persent daagliks.