’n Chinese man (32) is onlangs deur owerhede vasgetrek met niks minder nie as 285 gesteelde bra’s in sy paneelwa. Daarby was daar ook 185 gebruikte broekies.

Die vernuftige onderklere-dief is laas maand ná ’n driejaarlange skrikbewind in sy tuisdorp waar talle se onderklere verdwyn het, vasgetrek.

Só slim was die dief dat hy ’n tipe visvangstok ingespan het om die onderklere uit mense se huise en van hul wasgoeddrade af te pik.

Die polisie het hom nou uiteindelik vasgetrek met genoeg gesteelde onderklere in sy paneelwa om ’n tennisbaan vol te pak.

Hy het aan die polisie gebieg dat hy homself nie kon keer nie. Die gestelery het glo heel onskuldig begin met ’n paar items elke nou en dan, maar kort voor lank het dit begin hand uit ruk.

Die man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, gaan nou vir sielkundige waarneming gestuur word.

Bronne: Metro.co.uk; The Guardian