Wêreldwyd laat groei vroue nou hul onderarmhare om genderstereotipes teen te werk.

Die Chinese feminis Xiao Meili het die okselhareveldtog op die gewilde Chinese mikroblogwebtuiste Weibo (amper soosTwitter) begin om vroue aan te moedig om hul foto’s te deel. Xiao beweer sy wil die idee ’n nekslag toedien dat okselhare onaantreklik is. “Ek vra nie almal moet hul onderarmhare laat groei nie. Ek sê net as mense nie wil skeer nie, moet die res van ons nie dink hul okselhare is walglik, onhigiënies, onbeskaafd of nie vroulik genoeg nie,” sê Xiao.

Maar dis nie net Chinese feministe wat nou met die “natuurlike” voorkoms spog nie, glansvroue steun ook die idee. Die voorkoms was die afgelope paar maande een van Miley Cyrus se gunstelinge en sy spog op elke geleentheid wat sy kry met haar onderarmhare. Die pop-ikoon Madonna het ’n rukkie gelede ’n foto van haar onderarms op Instagram geplaas met die byskrif daarby: “Lang hare . . . Voel ’n veer!” Die aktrise Jemima Kirke volg ook die neiging en het getwiet sy is sat van al die “okselpraatjies” nadat sy met ongeskeerde onderarms op die rooi tapyt verskyn het.

Xiao deel Jemima se siening oor die saak: “Die mediadekking oor vroulike bekendes se onderarms is weersinwekkend, asof vroue nie veronderstel is om hare te hê nie of asof dit iets is om oor skaam te wees, terwyl manlike bekendes openlik met hul okselhare spog.”

Maar die Chinese onderarmhareveldtog is nie bloot ’n mediafoefie nie; daar is pryse op die spel. Die drie inskrywings waarvan die meeste mense hou en wat die meeste gedeel word, sal pryse met ’n “feministiese” inslag wen. Dit sluit kondome en vibrators in.

 

Bronne: CNN.COM, NBCNEWS.COM