Raven Klaasen, ’n Kapenaar oorspronklik van King William’s Town in die Oos-Kaap, en Ilze Hattingh, van Pretoria, speel vanjaar albei in hul eerste Australiese Ope en oortref alle verwagtings; hulle is Suid-Afrika se laaste hoop en kan in onderskeidelik die mansdubbelspel en junior vroue-enkelspel ’n trofee wen.

Raven, wat in die dubbelspel nog nooit verder as die derde ronde van ’n Grand Slam kon vorder nie, het saam met sy dubbelspelmaat, die Amerikaner Eric Butorac, tot die kwarteindronde deurgedring.

In die paar se opmars het hulle die eerste gekeurde Amerikaanse broers, Bob en Mike Bryan, in die derde ronde uitgeskakel en ook die legendariese Australiese tennisspeler Pat Rafter se terugkeer tot tennis in die eerste ronde kortgeknip.

Hulle kom môre (21 Januarie) te staan teen die Filippyn Treat Conrad Huey en sy dubbelspelmaat, die Brit Dominic Inglot.

As hy eindelik as die wenner gekroon word, sal hy die eerste Suid-Afrikaner sedert Ellis Ferreira in 2000 wees wat in dié afdeling koning kraai.

Op haar beurt span die 17-jarige Ilze haar in vir ’n Grand Slam-titel. Sy her reeds die agtste gekeurde Serwiër, Nina Stojanovic, en die Japannees Yukina Saigo ore aangesit.

Nog geen Suid-Afrikaanse meisie kon in die Australiese Ope die vroue-enkelspel vir juniors óf vrouedubbelspel vir juniors wen nie.

– Christiaan Boonzaier

BRON: AUSOPEN.COM, ATPWORLDTOUR.COM