Die akteur Alan Thicke, pa van die sanger Robin Thicke, is skielik in die ouderdom van 69 oorlede.

Die Kanadese televisie-ikoon, wat veral bekend was vir sy rol as die psigiater Jason Seaver in die gewilde Amerikaanse sitkom Growing Pains, het blykbaar ’n hartaanval gehad terwyl hy op Dinsdag 13 Desember saam met sy 19-jarige seun, Carter, hokkie gespeel het.

Volgens TMZ is Alan geneem na die mediese sentrum Providence Saint Joseph in Burbank, Kalifornië, waar dokters hom dood verklaar het.

Alan word oorleef deur sy weduwee, die aktrise Tanya Callau, en sy drie seuns, Carter, Brennan en die sanger Robin Thicke. Die akteur het ook speletjieprogramme aangebied en in ’n aantal ander Amerikaanse trefferkomedies verskyn. Hy het ook die temaliedjies vir programme soos Diff’rent Strokes en Wheel of Fortune geskryf. Sy mees onlangse verskyning was in Fuller House, Netflix se herskepping van die uiters gewilde gesinsitkom Full House van die 1980’s. In wat nou sy laaste twiet is, het hy opgewonde oor die sukses van die nuwe program geskryf: “Seisoen 2 van Fuller House lyk goed. Ek hou selfs van dié waarin ek nie is nie!”

Die twiet is Dinsdag geplaas. Die nuusman Larry King was van die eerste bekendes wat aan Alan hulde gebring het nadat TMZ die hartseer nuus bekendgemaak het. Hy het die akteur “ ’n wonderlike talent, ’n wonderlike man” genoem. Toe die tydskrif Smashing Interviews hom in Junie vanjaar oor sy roemryke, dekades lange loopbaan uitvra, het Alan gesê die geheim tot sy sukses as ’n aanbieder, akteur en liedjieskrywer was om ’n avontuurlike benadering te volg met elke projek wat hy aangepak het.

A photo posted by Alan Thicke (@alan_thicke) on

“Ek wil graag dink ek het so te sê alles probeer,” het hy gesê. “Ek dink nie daar is iets wat ek nie gedoen het nie. Daar is verskeie goed wat ek graag beter sou wou doen.

“Die lekker ding oor die vermaakbedryf is dat jy nooit weet nie. Daar’s altyd daardie geleentheid net om die draai van die een of ander uitdaging of ding wat jy genooi word om te doen; dan kan jy jou vaardighede verbeter.”

© Cover Media