Pretoria –

Die omruiling het 18 maande gelede aan die lig gekom toe een van die ma’s haar kêrel vir agterstallige onderhoud gedagvaar het. Toe hy ouerskap ontken, het DNS-toetse getoon nie een van hulle is die kind se biologiese ouers nie. Daarna is ontdek ’n verpleegster by die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg het die twee babas, ’n seun en ’n meisie, se naamkaartjies omgeruil ná hul geboorte in Augustus 2010.

Groot was die skok toe DNS-toetse toon nie een van hulle is die kind se biologiese ouers nie.

Maandag het adjunkregterpresident Aubrey Ledwaba en twee mederegters ’n bevel toegestaan waarvolgens die ouers nou as die wettige aanneemouers van hul “sielkundige” kinders beskou word. Hulle sal geen wettige reg oor hul biologiese kind hê nie, maar die hof het hul reg bevestig om kontak met hul biologiese kind te hê.

’n Ouerskapskoördineerder sal aangestel word om oor die proses toesig te hou. Dié sal met die ouers saamwerk, asook met ’n terapeutiese ondersteunings-en-integrasiespan wat reeds by die saak betrokke is. Die staat sal die koördineerder betaal.

Een van die ma’s wou aanvanklik haar biologiese kind teruggehad het, maar ná sielkundige berading het al die ouers saamgestem dis in die kinders se beste belang as hulle bly waar hulle is.

Aubrey het dit duidelik gemaak die deure van die hof, as die oppervoog van alle kinders, staan oop as enige probleme ontstaan wat nie opgelos kan word nie.

Hy het aanvanklik gesê as die hof nie ’n tussentydse bevel toestaan nie, kan die kinders later ’n sê hê oor waar hulle kan bly wanneer hulle ouer is.

Maar prof. Ann Skelton het aangevoer dit sou nie in hul beste belang wees nie, want hulle het sekerheid en kontinuïteit nodig. Die hof het Ann aangestel om te ondersoek wat in die kinders se beste belang sou wees, asook die ingewikkelde kwessies wat daarby betrokke is.

Tydens vorige hofverrigtinge het Aubrey opgemerk dit is duidelik die partye sal moet saamwerk en ’n ooreenkoms bereik waarmee almal tevrede is.

“Dit is nie ’n saak waar enigiemand kan sê hulle het gewen nie. Dit is ’n saak wat op die ou end die kinders moet bevoordeel,” het hy gesê.

Die hofbevel sal die weg baan vir ’n siviele eis deur die ouers teen die gesondheidsowerhede.

Bron: News24