Oudpres. Nelson Mandela lê nou in staatsie. So kry mense die kans om hul laaste eer aan hom te betoon voor hy begrawe word.

Hoewel die gebruik redelik onbekend vir Suid-Afrikaners is, word dit al jare elders beoefen.

Talle Amerikaanse presidente het in staatsie gelê:

Abraham Lincoln (19 – 20 April 1865)

Hy was aan bewind van 4 Maart 1861 af tot sy dood.

John F. Kennedy (24 – 25 November 1963)

Hy was die staatshoof van 10 Januarie 1961 af tot sy dood toe ’n sluipmoordenaar hom in Dallas doodgeskiet het.

Herbert Hoover (23 – 25 Oktober 1964)

Hy was die Amerikaanse leier van 4 Maart 1929 tot 3 Maart 1933. Hy is dood nadat ’n gewas uit sy maag verwyder is en hy inwendig begin bloei het.

Ronald Reagan (9 – 11 Junie 2004)

Hy was die Amerikaanse president van 20 Januarie 1981 tot 20 Januarie 1989. Hy is in sy huis in Bel Air dood, nadat hy sowat ’n dekade aan Alzheimer se siekte gely het.

  • In Suid-Afrika is Madiba die eerste president wat in staatsie lê, maar dit was ook die geval met die lyk van die politieke aktivis Walter Sisulu, wat ook ’n staatsbegrafnis gekry het.

Ander mense wat in staatsie gelê het, sluit in:

  • Eva Peron, wat as die geestelike leier van Argentinië bekendgestaan het. Sy is op 33 aan kanker oorlede. Sy is eers 24 jaar later begrawe.
  • Moeder Teresa het ’n week in Kalkutta in die staatsie gelê voor sy begrawe is.
  • Dan is daar natuurlik uiterste gevalle soos dié van die Viëtnamese president Ho Chi Minh wat al van 1969 af in staatsie lê en as ’n toeriste-aantreklikheid bemark word.
  • Interessant genoeg het prinses Diana se lyk nie in staatsie gelê nie.

Bronne: history.howstuffworks.com;trutv.com; python.net; aoc.gov; wikipedia,org; findadeath.com