Dit is al meer as ’n dekade sedert die Grease-ster se kêrel geheimsinnig verdwyn het terwyl hy in 2005 op ’n visvanguitstappie aan die kus van San Pedro, Kalifornië, was en net sy beursie en sleutels agtergelaat het.

Sedertdien was daar geen teken van Olivia Newton-John se voormalige lewensmaat, Patrick McDermott, nie en daar is aangeneem die kameraman is dood. Maar luidens ’n skokkende nuwe berig bly Patrick in Mexiko saam met sy nuwe meisie. Lees: Is dit wat jou man tydens inkopietogte doen? Daily Mail Australia beweer die voormalige kameraman het sy dood vervals en skuil in ’n landelike gebied van die Sentraal-Amerikaanse land sedert sy opspraakwekkende verdwyning jare gelede.

Patrick, wat 48 was toe hy verdwyn het, het die CSI-aktrise Yvette Nipar meer as R155 000 in onderhoud vir hul seun, Chance, geskuld.

Die agentskap haal die weeklikse tydskrif Woman’s Day in Australië, waar Olivia woon, aan. Die tydskrif het na bewering “vars bewyse” dat Patrick, wat van Koreaanse afkoms is, saam met sy Europese meisie in Mexiko nesgeskop het.

“Luidens gerugte was hy saam met ’n Duitse burger,” sê die ondersoeker, John Nazarian. “Ek het met mense daar gepraat. Die vrou saam met wie hy gereis het, is beskryf as (iemand met) ’n Duitse aksent.”

Olivia was gebroke ná Patrick se verdwyning en die daaropvolgende frustrerende soektog aan die kus van Kalifornië. Volgens die Amerikaanse kuswag se amptelike verslag het Patrick oorboord geval en “heel waarskynlik verdrink”.

Maar Olivia beweer dit is bisar. “Om tot die gevolgtrekking te kom dat hy van die boot geval het, en na bewering het niemand hom van die boot sien val nie, is die belaglikste ding wat ek in my lewe gehoor het.”

Dit is nie die eerste keer dat Patrick met Mexiko verbind word nie. In 2009 het Philip Klein, ’n privaat ondersoeker van Texas, gesê beweerde verteenwoordigers van Patrick het hom gekontak en gesmeek om Olivia se voormalige lewensmaat uit te los.

Lees: Dié maatreëls maak jou huis veiliger

Philip, wat die saak namens die Amerikaanse TV-program Dateline ondersoek het, beweer hy het Patrick nagespoor tot by die afgeleë dorp Sayulita waar hy “as ’n dekkneg gewerk het”.

Olivia het nog nie op die berigte kommentaar gelewer nie, maar sy het kommentaar gelewer oor die moontlikheid dat Patrick dalk sy dood vervals het ’n jaar nadat hy vermis geraak het.

“Ons sou verheug gewees het as dit waar was,” het sy gesê.

Yvette, wat van 1992 af twee jaar met Patrick getroud was, meen die speurder is “ ’n reeksleuenaar wat wil beroemd wees ten koste van ’n ongelukkige tragedie in ons lewe”.

Olivia het sedertdien liefde gevind by John Easterling, die stigter en voorsitter van die natuurlikegeneesmiddelonderneming Amazon Herb Company, met wie sy in 2008 op ’n bergpiek in Peru getroud is.

“John is ’n buitengewone en spesiale mens, vriendelik, saggeaard en liefdevol,” het die Xanadu-sangeres destyds gesê.

“Hy het baie integriteit en egtheid en ek het hom innig lief. Hy is bedagsaam en aandagtig. Hy is een uit ’n miljoen en ek kon nie meer bekoor gewees het dat hy myne is nie.

“Ek is die gelukkigste vrou ter wêreld.”

Bronne: MailOnline, Woman’s Day, insideedition.com, news.com.au

Ander stories op Huisgenoot.com

Graad 11’s! Hier’s waarom julle vanjaar net so ernstig soos jul matriekjaar moet opneem

Dié gewilde video (wat agteruit speel) van ’n man wat tamaties sny, is vreemd strelend

Kyk: Dale Steyn deel stout selfie!

Die foto wat die internet dronkslaan: hoeveel meisies is daar?