Die Britse toeris wat die olifant-aanval op 30 Desember in die Krugerwildtuin oorleef het, is uit die hospitaal ontslaan.

Robyn Baard, die woordvoerder van die Mediclinic in Mbombela, sê Sarah Brooks is Maandag uit dié hospitaal ontslaan.

Sarah en ’n medetoeris, Jans de Klerk, het verlede week opslae gemaak toe ’n olifantbul wat op hitte was, hulle langs ’n watergat binne-in hul kar aanval.

Jans kom oorspronklik van Pretoria, maar woon nou in Spalding in die Verenigde Koninkryk. Sarah is ’n onderwyseres van Spalding.

Dit is nog nie bekend wanneer hulle na Engeland sal terugkeer nie.

’n Woordvoerder van die Krugerwildtuin, William Mabasa, sê die olifant het voor die paar se motor verbygeloop terwyl hulle besig was om die dier te verfilm.

“Die olifant het skielik gaan staan, omgedraai en vinnig na die stilstaande motor beweeg.

“Die dier het op hul afgestorm, die motor gerol en van die pad af in ’n bos ingerol,” het Mabasa in ’n verklaring gesê.

Sarah se heup is deur die olifanttand deurboor. Sy is na die Medi-Clinic in Mbombela gevlieg.

Die olifant is van kant gemaak om nog voorvalle te verhoed.

Die dier was op hitte en het kort voor die voorval ’n besering opgedoen, wat moontlik tot sy aggressie bygedra het. - Sapa