So gereeld soos klokslag ontvou nuwe brokkies inligting rondom een van die opspraakwekkendste moorde wat die wêreld in 1994 geruk het: die moord op OJ Simpson se eksvrou, Nicole, en ’n kelner genaamd Ronald Lyle Goldman.

Die voormalige professionele voetbalspeler wat ook soms op die silwerdoek sy verskyning gemaak het, is aangekla van die gru-dade en ná ’n marathon van agt maande in die hof, is hy vrygespreek op die aanklagte.

Lees ook: Carl 'verpletter' oor Oscar Pistorius se appèl-uitslag

Sy vernuftige hoëprofielregspan, aanvanklik onder leiding van Robert Shapiro en later Johnnie Cochran, het voldoende twyfel gesaai rondom DNS-getuienis wat genoeg was om die kwessie oor redelike twyfel van die tafel te vee.

Ook sy vertoe rondom ’n leerhandskoen wat kwansuis te klein vir OJ se hande was, het tot een van die bekendste argumente in ’n hofsaak gelei: “As die handskoen nie pas nie, moet jy vrygespreek word.” Nicole en Ronald is buite haar huis gevind. Sy het verskeie steekwonde aan haar kop en nek gehad, asook verdedigingswonde aan haar hande. Die wond aan haar nek was so erg dat haar strottehoof sigbaar was. Op Vrydag 4 Maart 2016 het die vermaakkanaal TMZ ’n video uitgereik wat die wêreld regop laat sit het. Daarin word beweer dat ’n mes blykbaar in 1998 of daar rond deur ’n bouwerker in die omgewing van die gewese OJ Simpson-landgoed gevind is.

Die mes word glo onder groot geheimhouding deur die Los Angeles-polisie vir hare en vingerafdrukke getoets. Een van die bronne beweer daar kan dalk selfs tekens van bloed op die mes wees.

Wie kan ooit die ellelange jaagtog met OJ Simpson in 'n wit Bronco-bakkie vergeet?

Maar hoekom nou eers?

Volgens TMZ is die mes jare gelede ingehandig, maar die polisiebeampte wat dit in ontvangs geneem het, was besig om beveiliging te doen vir ’n rolprentstel in Brentwood.

Daar word beweer dat die polisiebeampte, wat nou afgetree is, die mes wou laat raam. Hy het ook vir ’n vriend gevra om die dossiernommer van die Nicole Brown Simpson/Ronald Goldman-moordsaak vir hom te bekom sodat hy dit kon laat graveer.

Lees ook: ‘Net met die Here se hulp en gebede sal hy dit finaal oorwin’ sê sesjarige kankerlyer se ma

Die vriend het sy toesighouers daarvan in kennis gestel en die polisiebeampte is aangesê om die mes in te handig.

Kitsfeite oor OJ Simpson

OJ het in 1974 in die fliek The Towering Inferno opgetree. Hy het ook in The Naked Gun: From the Files of Police Squad! (1988) en The Naked Gun 2½: The Smell of Fear (1991) verskyn.

Van 1979 maak hy sy buiging as sportaanbieder.

Op 4 Februarie 1997 bevind die hof OJ Simpson skuldig in die siviele saak wat deur Nicole en Ronald se naasbestaandes teen hom aanhangig gemaak is. Hy moet $8,5 miljoen aan die gesinne oorbetaal.

Op 3 Oktober 2008 word OJ skuldig bevind op 12 aanklagte wat ontvoering en gewapende roof insluit. Hy word 33 jaar tronkstraf opgelê, maar kan ná nege jaar vir parool in aanmerking kom.

In ’n onlangse TV-reeks getiteld American Crime Story se eerste seisoen met die subtitel The People v OJ Simpson handel oor die moordverhoor van OJ Simpson. Dit is gegrond op ’n boek deur Jeffrey Toobin getiteld The Run of His Life: The People v. O. J. Simpson.

Cuba Gooding jr. vertolk die rol van OJ in die reeks. Selma Blair speel Kris Jenner. John Travolta (as Robert Shapiro) en Courtney B. Vance (as Johnnie Cochran) verskyn ook daarin.

Bronne: wikipedia.com, quora.com, mirror.co.uk, edition.cnn.com

Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Lees ook op Huisgenoot.com:

Kyk: ‘Ons wil die beste in die wêreld wees’ – sê Stormers-kaptein oor sy span se Superrugby-kanse

Hierdie vrou is verskriklik fiks – en boonop 36 weke swanger!

Munisipale verkiesing 2016: Registreer so dié naweek

Van ‘plasentadrankies’ tot kriekmeel: Dié is die vreemdste kosgiere waarvan jy moet weet