Wel, dis nou as jou naam Arshad Khan is. Dié 18-jarige man van Islamabad, hoofstad van Pakistan, het sy teestalletjie op die besige Itwar-basaar beman toe ’n verbygaande fotograaf, Jiah Ali, hom afneem, berig die BBC. Jiah het die foto’s van die aanvallige teeverkoper op die sosiale media gedeel en dit vrypostig “Hot Tea” genoem. Die internet het bos gegaan.

Die fotograaf met die arendsoë het die foto’s van Arshad op 15 Oktober gedeel; teen 17 Oktober was #ChaiWala (teeverkoper) in Pakistan die mees bespreekte onderwerp op Twitter. Kort daarna het sy gewildheid na die buiteland uitgekring. En Arshad? Die jong man van Mardan in die Khyber Pakhtunkhwa-provinsie is glo een van 18 sibbes en mal oor die lewe.

A photo posted by Jiah Ali (@jiah_ali) on

“Ongeveer 40 tot 50 meisies het my sedert vanoggend besoek,” het Arshad aan Samaa TV vertel.

Die volgende dag is hy glo deur die aanlyn kleinhandelsaak Fitin gehuur om modelwerk te doen vir die maatskappy, wat in Islamabad gesetel is, berig Quartz.

Daar is glo klaar foto’s van hom geneem vir Fitin se mansklerereeks. “Hy is nie meer net ’n teeverkoper nie; hy is nou ’n modeverkoper!” lui Fitin se plasing op Facebook.