Alexander Skarsgård is omtrent gespierd met 'n perfekte blokkiesmaag as Edgar Rice Burroughs se woudheld in die lokprent vir die nuwe rolprent The Legend of Tarzan. Die 1,8 m lange Sweed vertolk die titelrol teenoor The Wolf of Wall Street se Margot Robbie as Jane in diá nuwe weergawe van die klassieke verhaal.

Ter voorbereiding vir die uitmergelende rol het Alexander vier maande lank geoefen nog voor die kameras begin draai het. “Ek het basies nie my familie of vriende gesien nie,” vertel hy. Maar, voeg hy by, die rol van Tarzan “was beslis die halfvyf soggens opstaan werd”.

In The Legend of Tarzan, wat middel volgende jaar uitgereik sal word, verruil Tarzan sy tuiste in die woude van die Kongo vir ’n nuwe lewe in Engeland saam met sy geliefde, Jane. Tien jaar later word hy terug genooi om as ’n handelsgesant van die parlement te dien, onbewus daarvan dat hy ’n pion is in ’n sameswering deur die Belg, kapt. Leon Rom (Christoph Waltz).

“Dis amper die teenoorgestelde van die klassieke verhaal, waar dit gaan oor die tem van die monster,” sê Alexander. “Dit gaan oor ’n man wat terughou en terwyl jy stadig die lae afskil, keer hy terug na ’n dierliker staat en laat hy daardie kant van sy persoonlikheid na vore kom.”

Die regisseur David Yates, wat aan die stuur van die laaste vier Harry Potter-rolprente was, het aan USA Today gesê Alexander se lenige lyf het hom perfek vir die rol gemaak. “Tarzan het spiere nodig, maar dis ’n leniger, langer, moderene man as die stereotipe met ’n vierkantige kaak waaraan ons gewoond is.”

Kyk hier na die opwindende lokprent wat onlangs uitgereik is:

Bronne: USA Today, E! Online, Comingsoon.net