[caption id="attachment_59014" align="aligncenter" width="450"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

DELIA Richter gaan die pad vat. Talle Binneland-aanhangers wat al lankal moeg is vir haar streke, glimlag breed, maar die aktrise Odelle de Wet (29), sit binnekort sonder ’n inkomste.

Dis ten spyte van die sepievervaardigers se versekering net ’n maand gelede dat haar kontrak beslis hernu sou word. Maar toe bars die bom Dinsdag 5 November. Odelle is ingelig sy is een van vier Binnelanders wie se kontrak nie vir nog ’n seisoen hernu gaan word nie.

Dawid Minnaar (dr. Franz Basson) en Elma Postma (Bea) weet al geruime tyd hulle verlaat Binneland in 2014. Maar Odelle en Neels van Jaarsveld (dr. Gideon Basson) het Dinsdag die eerste woord daarvan gehoor. Sy het absoluut niks vermoed toe sy na die vergadering gaan om haar kontrak te bespreek nie. Sy was onder die indruk dis net ’n formaliteit. Toe tref die nuus haar soos ’n emmer yswater.

“Kyk, Desember en Januarie is dooie maande vir akteurs; so my agent, Jennis Williamson, wou so begin Oktober seker maak dat ek nog werk sal hê. Ons het ’n e-pos gekry waarin die vervaardigers sê hulle stel beslis belang om die kontrak te hernu.

“So dan het ’n mens ’n verwagting dit gaan gebeur. Ek het nie noodwendig ’n jaarkontrak verwag nie, maar ten minste gedink ek sou nog ’n rukkie daar kon werk.

“Toe vind ek uit my laaste dag op die stel breek in Februarie aan. My karakter verlaat die sepie rondom April,” vertel Odelle, wat 10 minute nadat hulle die skoknuus gekry het, weer saam met Neels voor die kamera moes optree as die slinkse Delia, en maak asof niks skort nie. “Daar is mos maar niks anders wat jy kan doen nie.”

[caption id="attachment_59009" align="aligncenter" width="600"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

ONS ontmoet in ’n restaurant in Brooklyn, Pretoria, naby haar kêrel, Donovan Honeyborne (29), ook ’n akteur en musikant, se huis. Donovan was al te sien as Adam in Binneland.

Ten spyte van die slegte nuus lyk Odelle kalm en rustig.

“Die bestuur het net vir my gesê hulle weet nie eintlik hoe om dit vir my te sê nie en hulle is regtig baie jammer. Hulle het ook baie jammer gelyk, maar my kontrak gaan nie hernu word nie.

“Volgens hulle, is dit omdat die span skrywers bang is kykers begin verveeld raak met die intrige tussen At (Hans Strydom) en Delia. Hulle voel ook die karakter is te ongewild by die kykers. Ek was geskok!” vertel Odelle.

Daar was al talle klagtes op Binneland se Facebook-blad oor Delia, die feeks van Binneland. “Wens Delia kry haar ry! Sy irriteer my so baie!” skryf Zene van Greunen byvoorbeeld.

En ná die aankondiging op hul Facebook-blad dat Delia wel haar ry gaan kry, is die nuus verwelkom. Riaan van Rooyen het byvoorbeeld geskryf: “Dankie tog Delia gaan. (Haar optrede) leer ons kinders verkeerd.”

Maar almal stem nie saam nie. Baie kykers het op Facebook gekla omdat sy haar ry moet kry en gesê hulle gaan haar mis, soos Ina Wessels: “Bea en haar kinders kon gerus maar gebly het. Delia ook. Ek het haar gewoond geraak. Sy hoef nie noodwendig boos te bly nie. Kyk hoe oulik was sy toe sy en Malan getroud was.”

“Kyk, ironies genoeg is ’n sagter kant van die karakter die laaste tyd gewys, soos haar pa wat worstel met ’n persoonlikheidsversteuring en haar besef dat At nie werklik verantwoordelik was vir haar ma se dood nie (die rede vir al haar wraak),” vertel Odelle, wat self ook nou met die span saamgewerk en gedurig gedink het aan idees om die karakter gewilder te maak.

“Dit is inherent aan die aard van ’n reeks wat daagliks uitgesaai word: Karakters word ingeskryf, hulle vervul ’n dramatiese storie-funksie, en dan is dit tyd om te groet,” verduidelik Elsje Stark van Stark Films, wat Binneland vervaardig. “Ons het het net die hoogste lof vir die professionele wyse waarop hierdie akteurs hulle van hul taak gekwyt en bygedra het tot die reeks se sukses. Ons wens hulle net die beste toe vir die toekoms,” voeg Elsje by. “Die geleentheid doen homself nou voor om dinamiese en interessante stories te vertel met vars nuwe talent.” Ten spyte van alles bly Odelle opgeruimd. Sy is ’n aangename mens, glad nie boos soos Delia nie, en koester geen wrok nie. Sy het haar tyd in Binneland baie geniet.

“Om ’n akteur te wees is onseker; dit het ek geweet al vandat ek studeer het.”

“Ek dink regtig dit was vir die bestuur moeilik om my te laat gaan, want hulle werk lekker saam met my en vir my is dit so ’n ongelooflike span en die omgewing waarin ons werk, is fantasties.

“Alle akteurs wil daar werk en ek is baie dankbaar vir die kans wat ek gehad het en hoop dat die ervaring nuwe deure vir my gaan oopmaak,” sê Odelle, wat maar bekommerd is oor die geldelike gevolge van werkloos. Tog glo sy iets sal binnekort opduik.

“Ek kan my nogal kwaai bekommer en kan baie gestres raak oor sulke goed. Ek was baie teleurgesteld, maar net daarna het daai opwinding van ’n nuwe uitdaging ingeskop.”

Sy glo daarin om geestelik sterk te wees, en dis veral haar ander passie, joga, wat haar nou help kophou.

“Joga kalmeer my baie. Ek kan nogal stresserig raak en sien ook uit daarna om weer meer jogaklasse te gee, noudat ek gaan tyd hê.”

Odelle lees ook baie geestelike boeke.

“Dis so eienaardig, ’n paar weke voor dit gebeur het, het ek juis baie gelees oor verandering en dat dit deel is van die lewe – ‘the only constant is change’ – en ek het gedink ek stem heeltemal daarmee saam, en dis hoe ek my lewe wil leef. Maar wanneer dit wél gebeur, is dit nogal ’n skok.

“Maar ja, ek het my oopgestel daarvoor, en ek dink die heelal het besluit, oukei, kom ons kyk hoe hanteer jy dit.”

En dit is nou presies wat sy doen: Sy het ingespring, haar CV begin uitstuur en kalm geraak.

Dit bly egter hartseer. Sy gaan die lekker werk, roetine, maandelikse salaris en die mense baie mis.

“Ek kon enige tyd met enige iemand daar gepraat het, die mense is almal great. Maar ek is ook opgewonde oor die nuwe vryheid wat ek nou het. Daar is nou ’n nuwe gaping wat gevul moet word en ek gaan die meeste van die geleentheid maak.”

[caption id="attachment_59012" align="aligncenter" width="450"]Odelle de Wet, leaving Binneland Foto: Rowyn Lombard[/caption]

VIR haar ouers, wat geskei is, ma Thareen (59) en pa René (70), was die nuus ook ’n skok. Hulle het geen enkele aflewering van Binneland misgeloop nie.

Ironies genoeg het Odelle se ma, wat ’n lugwaardin was, ook ’n paar jaar gelede haar werk verloor ná ’n hartoperasie en soek vandag nog werk. “Dis frustrerend. Gelukkig is sy tans op ’n mediese polis wat haar help, maar ons maak ook maar almal bydraes,” vertel Odelle.

Haar ma was baie teleurgesteld toe sy hoor Odelle se kontrak gaan nie hernu word nie. “Sy weet hoe moeilik dit is, maar is ook baie ondersteunend en glo dat ek sal regkom.

“Ek is nie ’n slagoffer nie. Dit is hoe die bedryf werk, en ons gaan in elke storie of rol in met die wete dat dit nie vir ewig gaan hou nie. Om ’n akteur te wees is onseker; dit het ek geweet al vandat ek studeer het,” sê Odelle.

Maar gaan Binneland werklik ’n beter plek wees sonder Delia? Net die tyd sal leer.