.

Lisanne Brits het ’n klag by die Gesagsvereniging vir Reklamestandaarde (GRS) ingedien teen Ocean Basket oor ’n gereg wat op hul spyskaart verskyn as ’n “maaltyd vir twee”.

Sy meld dat die maaltyd bestaan uit “ses mossels, 12 prinsgarnale, die vangs van die dag, inkvis en inkviskoppe.”

Sy het beweer die inligting op die spyskaart was misleidend, aangesien baars, ’n soort varswatervis wat uit Viëtnam ingevoer word, aan haar voorgesit is.

Haar argument was dat sy ’n seekosbord bestel het – nie ’n riviermandjie nie. Sy het dus slegs seevis verwag. Volgens haar was die geadverteerde bord misleidend.

Ocean Basket het aangevoer hulle het nog nooit “voorgegee” dat hulle ’n eksklusiewe seekosrestaurant is nie en dat hulle reeds sedert 2006 varswatervis voorsit.

Die groep beweer die frase “vangs van die dag” verwys gewoonlik na varswatervis én seekos.

Ocean Basket het aangevoer die tevredenheid van klante is vir hulle belangrik en hulle is bereid om al hul spyskaarte teen einde April te verander sodat dit geregte spesifiseer wat varswatervis bevat.

Die GRS het die onderneming aanvaar op voorwaarde dat die veranderinge teen 30 April vanjaar by al die restaurante aangebring word.

"Die GRS (ASA) het 'n lank bestaande beginsel dat, as die adverteerder ’n onomwonde onderneming verskaf om sy advertensie te verwyder of aan te pas op ’n wyse wat die saak wat geopper is, raak, kan die onderneming volgens die diskresie van die direktoraat aanvaar word sonder om die meriete van die saak te oorweeg,” was die beslissing wat verlede Vrydag gelewer is.

- Sapa