Die 28-jarige Angela Jay het op die afspraak-app Tinder rondgeloer toe sy op ’n foto van ’n aantreklike man afkom. Haar vinger het dadelik regs oor haar selfoonskerm gevee, want Paul Dennis Lambert (36) het na die perfekte afspraak gelyk.

Toe sy egter later agterkom dat hy ’n psigopaat en obsessiewe bekruiper is, was dit te laat.

Verlede week het dié finansiële adviseur haar met ’n mes aangeval. Hy was van plan om haar te verkrag, petrol oor haar uit te gooi en haar dan aan die brand te steek. Sy kon ontsnap, maar dié skrikwekkende gebeure het ure later in ’n bloedbad geëindig toe die polisie Paul doodskiet . . .

Alles het sowat nege weke gelede begin toe Angela en Paul mekaar op Tinder "raak gevee" en op verskeie afsprake gegaan het. Hoewel Paul sommer gou halsoorkop verlief was, het Angela belangstelling verloor en eindelik alle kontak tussen hulle twee stopgesit.

Paul het dit glad nie goed gevat nie en het haar met talle boodskappe geteister en gedreig. In een van die boodskappe sê hy: “Jy moet verstaan dis my goeie kant, maar die goeie kant sal nie lank hou nie, veral nie as ek verwerp word nie.” En in ’n ander boodskap waarsku hy haar dat sy nie veilig in haar huis is nie. “Ek het van die huissleutels,” dreig hy haar. Angela het ’n beskermingsbevel teen hom gekry, maar die polisie kon hom nie opspoor om die bevel op hom te bestel nie. Verlede Donderdag het sy ná ’n lang skof in ’n hospitaal op die Australiese dorp Port Macquarie, waar sy as ginekoloog werk, tuisgekom. Maar die rustige aand waarna die moeë Angela uitgesien het, was haar nie beskore nie. Paul het reeds by haar huis ingebreek en in ’n klerekas in haar kamer geskuil.

Sy grusame plan was klaar uitgewerk: Hy sou haar aanval en oorrompel, haar klere uittrek en haar op die bed vasmaak en dan verkrag. Sy wraak sou egter nog verder gaan, het hy beplan. Ná die verkragting sou hy haar aan die brand steek.

Toe sy die kamer binnegaan, het Paul tot die aanval oorgegaan en haar 11 keer met ’n mes gesteek. Vanuit die huis langsaan het ’n buurman, Steve Willdern, Angela se angswekkende gille gehoor.

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” vertel hy. “Dit het geklink soos iets uit ’n gruwelfliek.” Gewapen met ’n staalpyp het hy tot haar redding gestorm, waarna Paul op die vlug geslaan het.

Hy het die erg gewonde Angela na sy huis gedra waar sy aan hom verduidelik het hoe om die bloeding te stop en verdere noodhulp toe te pas tot ’n ambulans opgedaag het.

“Sy het verskriklik gebloei,” vertel Steve. “Die bloed het uit haar nek, arms en bene gestroom. Ek en my dogter het lakens en handdoeke gebruik om haar te verbind.”

Nadat Paul van die toneel gevlug het, is hy drie uur later ná ’n wilde jaagtog deur die polisie sowat 150 km verder van die pad af gedwing. Paul sou egter nie sommer net so oorgee nie en het op die polisiebeamptes afgestorm met ’n mes in sy hand.

Hy is op die toneel doodgeskiet.

Bronne: Mail Online, Daily Telegraph, Yahoo, Metro, Herald Sun