[caption id="attachment_163254" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Volgens ’n kriminele klag wat die New York Post se skinderkolom, Page Six, in die hande gekry het, het Mohammed Jaffar (29) verlede Desember eers probeer om die sangeres van Shake It Off te ontmoet deur by Taylor se woonstel op te daag en te vra het of hy haar kan ontmoet, waarop hy aangesê is om weg te gaan.

Maar Mohammed het hom nie so maklik laat afskrik nie. Hy het in die volgende vier maande nog vier keer by Swift se woonstel opgedaag en toe slaag hy op 6 Februarie vanjaar daarin om die gebou binne te gaan.

Beeldmateriaal van die kringtelevisie het hom na bewering tussen tienuur die oggend en tweeuur die middag afgeneem in die portaal reg buite Taylor se woonsteldeur asook op die gebou se dak. Jaffer het by ’n ander geleentheid ’n uur lank Swift se voordeurklokkie gelui en die volgende dag teruggekeer en dit ’n driekwartier gelui.

Sy mees onlangse probeerslag om Swift by die woonstel te ontmoet, was na bewering op 15 Februarie vanjaar.

Weens Jaffar se beheptheid om Swift te ontmoet het hy haar bestuursmaatskappy tussen 27 Januarie en 16 Februarie vanjaar 59 keer gebel en geëis om met haar in aanraking te kom.

Jaffar is op 6 Maart vanjaar in hegtenis geneem op aanklagte van bekruiping en inbraak en borgtog van sowat R260 000 toegestaan. Regter David Frey het Jaffar vrygelaat met ’n beskermingsbevel teen hom wat hom verbied om enigsins kontak met die sangeres te maak.

Swift het haar dakwoonstel in 2014 vir sowat R240 miljoen gekoop. Haar bure is onder andere sterre soos Orlando Bloom en die regisseur Steven Soderbergh.

Jaffar is die mees onlangse persoon wat aangekeer is omdat hy Swift glo bekruip het. Die 39-jarige Frank Andrew Hoover het in Oktober verlede jaar na bewering probeer om die ster van Blank Space in ’n hoek vas te keer en ’n foto van haar te neem terwyl sy ná ’n vertoning in Austin, Texas, op pad was na ’n privaat straler.

Hy is in hegtenis geneem weens die oortreding van die voorwaardes van ’n bevel wat hom lewenslank verbied om binne 150 m van Swift te kom.

© Cover Media