Julle is malverlief. In jou hart weet jy julle gaan die res van jul lewe saam wees. Net om die liefde te verewig, laat tatoeëer jy jou hart se punt se naam iewers op jou lyf. Gewoonlik op ’n plek waar almal dit kan sien.

Maar o wee, toe loop dinge skeef. En al wat oor is, is daardie tatoeëermerk. Waar almal dit kan sien.

Hoe nou gemaak? Want nadat ’n verhouding op die rotse geloop het, wil jy mos niks met daardie mens te doen hê nie.

In Hollywood het ’n paar bekendes heel kreatief geraak om daardie ongewenste naam te verbloem. Ander se tatoeëermerke lyk bloot soos iets wat lelik uitgevee is.

Huisgenoot het gekyk na ’n paar van dié bekendes se tatoeëermerke, of dit wat oor is daarvan . . .

Angelina Jolie

Dié Lara Croft-aktrise was maar 25 jaar oud toe sy die akteur Billy Bob Thornton se naam met ’n draak op haar skouer verewig het. Dié paartjie is in 2000 ná net twee maande saam getroud.

Die ink op die skeidokumente was nog nie eens behoorlik droog nie, toe is Billy Bob se naam én die draak met laser verwyder, berig Daily Mail. Dié het plek gemaak vir die koördinate van haar kinders en haar man, die akteur Brad Pitt, se geboorteplek. As jy fyn kyk op haar linkerskouer, sal jy nog die draak kan sien.

Denise Richards en Charlie Sheen

Die liefde het nog geblom tussen die Bond-meisie en die Hollywoodse stoutseun toe sy dié akteur se naam op haar linkerenkel laat aanbring.

Charlie het Denise se naam onderstebo op sy linkerpols laat ink.

In 2005 is dié twee se liefdesvlammetjie uitgedoof. Vinnig-vinnig het Charlie Denise se naam met laser laat verwyder, berig Toronto Sun.

Denise het Charlie se naam in ’n feetjie laat verander, sê Daily Mail.

Lees ook: Hierdie tatoekunstenaar omskep letsels van gesinsgeweld in pragtige kuns

Heather Locklear

Dié Melrose Place-aktrise het al ’n paar keer die fout gemaak om ’n geliefde se naam op haar lyf te verewig. Die eerste tatoeëermerk het nou nie die naam van haar destydse wederhelf, Tommy Lee, bevat nie; dit was net ’n rooi hart toegevou in roostakke op haar regterenkel, berig Toronto Sun.

Dié het sy laat aanbring tydens haar huwelik van sewe jaar met die Mötley Crüe-tromspeler. Toe dié huwelik in 1993 op die rotse loop, was die tatoeëermerk nie so ’n onaangename herinnering nie. Maar toe laat skryf sy die naam Finch bó die hart. Dit was ’n verwysing na haar volgende liefde, David Spade, se karakter in die sitkom Just Shoot Me. Dié verhouding het ook nie lank gehou nie.

In 1994 is Heather getroud met Bon Jovi se kitaarspeler, Richie Sambora. Natuurlik moes daar ’n tatoeëermerk met sy naam wees; dié het sy op haar bikini-lyn laat aanbring. Ná hul egskeiding in 2007 het Richie se naam ’n roos geword.

Melanie Griffith

Ná vier jaar saam met die akteur Antonio Banderas het Melanie sy naam in ’n hart op haar regterboarm laat ink, berig Daily Mail. Ná ’n huwelik van 18 jaar is Antonio en die tatoe geskiedenis. Melanie het sy naam met laser laat verwyder.

Johnny Depp

Johnny Depp is geen vreemdeling wat tatoes betref nie. Op sy webtuiste, johnny-depp.org, verduidelik hy wat elkeen van die meer as 30 tatoeëermerke op sy lyf beteken. Hier en daar was een of twee wat vinnig verander moes word nadat ’n verhouding gevou het. Op sy regterskouer staan Wino Forever in ’n lint. Dié was eens op ’n tyd Winona Forever, maar nadat sy verhouding van vier jaar met die aktrise beëindig is, het Winona danksy laserterapie Wino geword.

A photo posted by Sara Scandurra (@thedoublesse) on

Op die kneukels van sy regterhand het Johnny die woord SLIM laat tatoeëer. Dit was sy troetelnaam vir die aktrise Amber Heard. Nadat sy Johnny om ’n egskeiding gedagvaar en hom van mishandeling beskuldig het, het hy vinnig laat weet wat hy hiervan dink toe hy SLIM na SCUM verander het.

Nog twee tatoeëermerke wat hy in sy liefde vir Amber op sy lyf aangebring het – een op sy hand sê “come with me, Slim” en daar is ’n prent van Amber op sy regterboarm – is verbloem met ontwerpe wat nie maklik identifiseerbaar is nie, berig Daily Mail.

Lees ook: Ouers kry tatoeërmerke om soos kleuter se geboortemerk te lyk

Peter Andre en Katie Price

Ná dié sanger en model se troue in 2005 het Peter Katie se naam op sy ringvinger laat tatoeëer.

[caption id="attachment_132730" align="alignnone" width="600"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Twee jaar later het Katie “Pete” met rooi hartjies op haar pols laat aanbring. Net onder sy naam het sy ’n kroon laat ets en onder dit hul dogter se naam, Princess, berig Daily Mail.

Weke nadat hulle in 2009 uitmekaar is, het Katie ’n kruis oor Pete laat aanbring, maar dit het gelyk of iemand dit met ’n viltpen geteken het. Dié gemors is later met ’n roos verdoesel.

Volgens Daily Mail het Peter Katie se naam van sy ringvinger verwyder nadat sy in 2010 met die hokvegter Alex Reid getroud is. Hoewel Katie nie Alex se naam op haar verewig nie, het sy wel haar volgende kêrel, Leandro ‘Leo’ Penna, se naam op haar enkel laat skryf.

Al is sy en Leo nie meer bymekaar is nie, is sy nog te bang om sy naam te verwyder – dit is glo verskriklik seer!

Bronne: Daily Mail, torontosun.com, johnny-depp.org