In Schuks! Pay Back the Money! verloor Schuks per ongeluk rugby se Heilige Graal – die Curriebeker – en dan volg ’n skreeusnaakse reis om te betaal vir wat hy gedoen het.

Schuster het weer saamgewerk met nog ’n komediereus, Desmond Dube, wat in Panic Mechanic (1996) en The Millennium Menace (1999) verskyn het, sowel as Ivan D. Lucas en Gerrit Schoonhoven, wat die knoeiende skurke Bossie en Savage in Shirt ’n Sweet van 1991 gespeel het. Om ’n tikkie glans by te voeg maak die Suid-Afrikaanse Idols-finalis en bekroonde teateraktrise Bianca le Grange haar silwerdoekdebuut.

Saam met die snaakse Curriebeker-avontuur, is daar ook volop van die versteektekamera-grappies waarvoor Leon so bekend is en waarby ’n klomp bekendes betrokke is.

Schuks! Pay Back the Money!, herenig ook die hoogs suksesvolle Schuster-span met die vervaardiger André Scholtz, en regisseur en medeskrywer, Gray Hofmeyr. “Nadat ek die draaiboek gelees het, was daar geen manier dat ek nie betrokke sou word nie. Die intrige is so snaaks, dit sal jou hardop laat lag en ek het geweet dat tesame met die lang lys vars, nuwe versteektekamera-grappies, gaan dit waarlik ’n skreeusnaakse fliek wees,” het André gesê.

André, wat al saam met Leon gewerk het aan rolprente soos You Must Be Joking!, Panic Mechanic, Sweet 'n Short en Oh Schuks...I’m Gatvol, sê dat Schuster in hierdie film terugkeer na sy wortels as Suid-Afrika se vooraanstaande poetsbakker en grapjas.

Schuks! Pay Back the Money! word op 28 Augustus 2015 in teaters uitgereik en versprei deur The Walt Disney Company Africa onder die Touchstone Pictures-banier.

- Channel24