’n Studie deur dr. Laura Glynn, ’n sielkundige by die Chapman-universiteit in Kalifornië, sê ’n vrou se brein verander tydens swangerskap. Dit is as gevolg van ’n verandering in die hormone en die effek van die bewegende fetus op haar liggaam. Hierdie veranderinge gebeur glo sodat die vrou noukeuriger op die baba se behoeftes ná geboorte kan fokus. Dr. Glynn se navorsing is in Current Directions in Psychological Science gepubliseer.

Maar as jy een van die ma’s is wat nie aan “bababrein” ly nie, is jy heeltemal normaal. Dr. Roger Harms van die Mayo-kliniek verwerp hierdie toerie. “Omdat die konsep van bababrein so wyd aanvaar word, stel party kenners voor dat verwagtende vroue en nuwe ma’s meer bewus is van alledaagse kognitiewe glipse. Gevolglik kan hulle hulself verkeerdelik sien as iemand wat sukkel met dink,” het hy in ’n aanlyn vraesessie met pasiënte gesê.

Hier is agt wenke om bababrein baas te raak:

  1. Oefen. Of jy nou joga doen of draf, doen wat jy kan en wat haalbaar is vir jou.
  2. Hou dinge eenvoudig. Probeer die res van jou lewe so eenvoudig moontlik hou; moet dus nie heeldag in vergaderings sit nie.
  3. Skryf dit neer. Los notas vir jouself, maak lyste en hou dagboek waarin jy jou dag beplan.
  4. Slaap. Probeer soveel moontlik gereelde slaap kry. ’n Slaaptekort is ’n groot oorsaak van bababrein.
  5. Eet gesond. Eet kosse met ’n hoë konsentrasie anti-oksidante, soos bloubessies, Granny Smith-appels en gesonde vette.
  6. Konnekteer. Bring tyd saam met vriende deur; gesprekke gee die brein ’n hupstoot en verminder stres.
  7. Leer. Leer iets nuuts; dit sal jou brein aktief hou.
  8. Lag. Moenie stres oor jou vergeetagtigheid nie. Dit gebeur; dit is nie iets om jou oor te bekommer nie.

- Londiwe Dlomo

Bronne: psychologicalscience.org, dailymail.co.uk, naturalchildmagazine.com, mayoclinic.org