Dis nogal ’n probleem: Daardie eens skraal lyf is nou so groot dat sy nie eens haar voete kan sien nie, laat staan nog bykom.

“My man moet my skoene vir my aantrek, maar sy vingers is te dik om die sandale se bandjies vas te kry,” vertel ons land se countrymeisie Chereé(31) laggend oor manlief Wynand Strydom (35) se gesukkel om haar geswelde voete in haar skoene te kry.

Die ooievaar het hulle eintlik onverhoeds betrap en net twee weke ná die sangpaar se pragtroue op Langebaan in April vanjaar was sy swanger.

“Maar ek glo ons baba is ’n geskenk van God en nou kan ons nie meer wag dat sy kom nie,” vertel sy opgewonde en knipoog vir haar man hier in hul blyplek op die Weskus-dorpie.

Iewers in Mei het sy “vreemd’’ begin voel, en kort daarna het sy haar ma, Jennett Large, apteek toe gestuur om twee swangerskaptoetse te gaan koop – net vir die wis en die onwis. Dit was inderdaad sulke tyd en Chereé was uit die veld geslaan toe sy hoor sy is al langer as ’n maand swanger.

“Ek het eers my oë uitgehuil, want ek is iemand wat alles beplan en ons wou dan nog na Nashville in Amerika gaan. Maar die Man daar bo werk mos alles op sy tyd uit en ek kan altyd later Nashville toe gaan.”

Deesdae eet die vrou wat gewoonlik nie ’n suikertand het nie, haar dood aan die soetgoed.

“Selfs koek,’’ sê sy. “Daar gaat die 13 kg wat ek voor my troue verloor het! Maar nou ja, ek weet nie eens hoeveel gewig ek al aangesit het nie en weier om my te weeg. Ek kan mos sien ek het oral aan my lyf rolletjies bygekry.

“Jy verstaan nie hoeveel tjoklits ek eet nie! Dink net, as ek nie die gewig voor my troue verloor het nie, dan het ek mos nou gerol.’’

Lees meer oor die gewilde paartjie se nuwe planne in Huisgenoot, 30 Desember 2010.