Die moordbeskuldigde Shrien Dewani is nog geestelik ongesteld en het behandeling nodig, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Dinsdag ná sy vlugtige hofverskyning gesê.

“Ek moet dit eintlik beklemtoon en duidelik maak. Hy gaan nie onder waarneming geplaas word nie; hy gaan behandeling ontvang,” het die NVG-woordvoerder Nathi Mncube buite die hooggeregshof in Kaapstad gesê.

“Terwyl hy in sy dokters se sorg is, sal hulle ons meer inligting kan gee rakende sy gesondheid, en ons sal op grond daarvan ’n besluit neem.”

Nathi het gesê dit is in die land en ook in Shrien se beste belang dat sy gesondheid goed is voor die verhoor begin.

Voor hy Dinsdag aan Suid-Afrika uitgelewer is, het hy in ’n Britse hospitaal behandeling ontvang vir depressie en posttraumatiese stres.

’n Paar uur nadat hy Dinsdag in Suid-Afrika aangekom het, het ’n oënskynlik bedremmelde Shrien vlugtig in die hof voorgekom. Die wêreldmedia se oë was op hom gerig.

Hy was in ’n deftige vaal pak en swart das geklee, en het soms gesukkel om te hoor wat aan die gang is. Hy het ook af en toe gefrons.

In ’n stadium het hy met groot oë omgekyk na die hofsaal.

Sy pa, Prakash, broer, Preyen, en suster Preyal was saam met nog familielede teenwoordig.

Hulle is vergesel van verteenwoordigers van die Britse konsulaat in Kaapstad, wat “konsulêre bystand” verleen het.

’n Brief van Shrien se dokter is by die hof ingedien. Daarin het die arts verduidelik dat Shrien steeds geestelik ongesteld is en deurgaans sorg nodig het.

Regter-president John Hlope het die saak tot 12 Mei uitgestel in oorstemming met die staat en die verdediging.

“Die saak word uitgestel tot 12 Mei 2014, op welke dag u in die hof sal voorkom,” het hy gesê.

“Hoor u my?” het die regte nadat Shrien hom nie geantwoord het nie.

Hy het na sy regspan gekyk voor hy geknik en “ja” gemompel het.

“U sal in die Valkenburg-hospitaal aangehou word,” het Shrien gehoor voor hy weggelei is na die polisieselle.

Nathi het verduidelik dat daar ’n spesiale hofproses is waartydens Shrien amptelik waargeneem word sodat daar bepaal kan word of hy geskik is vir verhoor.

“As daar bepaal moet word of hy gesond genoeg is om verhoor te word, moet die verdediging ’n aansoek indien, en in sommige gevalle die staat,” het hy gesê.

“Maar dit het nie vandag gebeur nie . . . Op die oomblik spits die dokters hulle net toe op sy herstel.”

Volgens die klagstaat wat Dinsdag by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is, word Shrien aangekla weens sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en regsverydeling.