Foto: DHL Stormers (Facebook)

Op 25 Mei is dit Tinus Linee-dag by die Nuweland-rugbystadion. Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) gebruik die Stormers se wedstryd teen die Reds as ’n geleentheid om geld in te samel vir dié voormalige Springbok. Vroeër vanjaar is motorneuronsiekte by Tinus gediagnoseer – net soos ’n ander rugbylegende, Joost van der Westhuizen.

Die president van die WPRU, Thelo Wakefield, beskryf Tinus as ’n “ware seun van WP-rugby” en doen ’n beroep op DHL Stormers- en DHL WP-ondersteuners om die inisiatief te ondersteun: “Wys jou ondersteuning vir Tinus deur môre stadion toe te kom en ’n donasie te maak.”

Die Linees is deur ’n moeilike tyd. “Dit was baie swaar om die aanvanklike nuus te verwerk; daar is ook die finansiële aspek van dit alles. Maar Tinus is tot dusver baie sterk. Hy is nooit sonder ’n glimlag op sy gesig nie,” vertel sy vrou, Diana.

Sy voeg by: “Die ondersteuning en omgee wat Tinus sedert sy diagnose ontvang het, maak ons nederig. Die rugbygemeenskap, asook mense wat ons nog nooit vantevore ontmoet het nie, is ons so goedgesind.”

Haar man is opgewonde oor die naweek se inisiatief. “Hy sien uit daarna om sy ou rugbyvriende weer te sien en bedank almal vir hul goeie wense en ook die ruimhartige finansiële ondersteuning. Dit maak alles ’n reuse verskil vir ons.”

Tussen 1992 en 2001 het Tinus 112 wedstryde op senter vir die WP gespeel. Hy was veral bekend vir sy ongenaakbare lakwerk in die middelveld.

Vir nog inligting oor hoe jy ’n bydrae kan maak, gaan kyk na: http://www.youtube.com/watch?v=uslCeyb6qVw

– SUZAAN HAUMAN