Kan jy ’n verruklike Franse sjokoladekoek bak terwyl die kinders baklei en die TV blêr? Ons kosblogger Mari-Louis Guy kan! Sy deel twee heerlike Franse resepte, vertel van die prys wat sy en broer Callie pas losgeslaan het, en verklap hoekom jy haar nooit weer sleg sal sien lyk nie . . . Foto van Mari Louis met gesin  2014 – MY JAAR VAN PRAGTIG LYK

WAT as ek vandag in Eureka Steyn vasloop?

Dié woorde het ek pas in lipstiek op my spieël geskryf.

Eureka Steyn het straataf van ons gewoon in die Vredendal van my kinderjare. Die mooiste vrou! Nes ek het sy drie kinders gehad en nes in my geval was haar huwelik ’n pendelhuwelik.

Anders as ek is sy egter nooit by die deur uit sonder pragtigste, deftigste klere aan haar lyf nie. Nie ’n haar was ooit uit plek nie. Dieselfde het gegeld vir haar drie pragtige dogters, Rochelle, Nichola en Eulanda. Die Steyn-girls was my 80’s-eweknie van Hello Magazine.

Onder ’n swak verbloemde skuilnaam (ons was immers net 300 leerlinge) het ek gereeld in my “moderubriek” vir die skoolkoerant oor die modes van dié drie vriendinne van my geskryf.

Dit was natuurlik altyd heerlik om by hulle te kuier, met Nichola wat my hare probeer tem terwyl ek en Eulanda sit en kekkel, kraai en skinder en ons vergaap aan hoe al die ouer seuns soos bye rondom koninginby Rochelle zoem.

Tannie Eureka het ook al my dirigentklere en selfs my matriekafskeidrok gemaak.

My ma wou nog keer, toe lê sy met die skêr in en sny hom met so ’n lae hals. Amper was die sexy rok ’n groot skande!

Sy het my ook die aand van my matriekafskeid so bederf en selfs ’n klein sjerrietjie vir die groot aand geskink. Ek het soos ’n prinses gevoel.

Maar ai! Nou lyk ek dikwels meer padda as prinses wanneer ek by die deur uitstorm. Ek beplan dit nie so nie en het werklik mooi klere iewers in die kas, maar daar is altyd iets wat my aandag aflei: om gou ’n vriendin te bel, net gou op Facebook te kyk, nog ’n paar bladsye uit nog ’n goeie boek wat my meer belese broer my in die hand gestop het, die menigte kinderkrete wat aandag verg. Dan besef ek ek is laat en gryp die naaste gemaklike kledingstuk.

Maar dié jaar gaan ek mooi lyk, versorg van kop tot toon.

Weg met gemaklike beige onderklere, twee jaar gelede se afgeloopte skoene en broeke wat lankal nie meer die waarheid verbloem nie.

Vanjaar stap ek nie by my deur uit sonder glinsterende oorbelle, geverfde lippe en ’n wikkel in my vroulike heupe nie. Dalk moet ek net begin deur te sorg dat daar altyd ’n skoon voorskoot in my handsak is! [caption id="attachment_64691" align="alignnone" width="600"]Mari-Louis Guy en Callie Maritz een 'n 70's grafitti agtergrond So gaan ek elke dag lyk, selfs al is die ligte af! Hier is ek by my kookvennoot, my broer Callie Maritz.[/caption] ’N MAN SOOS JAN Kookboek The French Affair Skrywer Jan Hendrik van der Westhuizen Uitgewer Human & Rousseau Ontwerpers Fred Viljoen en Beverley Dodd

Prys R338,25 by kalaari.com

My nuwe gunsteling-boek is die pragtige The French Affair deur Jan Hendrik van der Westhuizen. Elke foto en resep is die mooiste mooi.

Voorblad van die kookboek French Affair

My dierbare man, Chris, is ’n skeepskaptein op die Middellandse See en het saam met vriende Jan se restaurant The French Affair in Nice, Frankryk, besoek. Hulle besing ook die lof van die heerlike kos daar.

So ’n paar dae gelede het Jan op Facebook genoem dat hy na Bruckner se sewende simfonie luister en rustig aan ’n bordeaux drink terwyl sy melktert in die oond bak.

Dit klink erg idillies, Jan, maar ek het jou Monaco-moelleux au chocolat (sjokoladekoek met ’n sagte middel) gebak terwyl my ampertiener en die twee peuters die huis plat baklei het en Sponge Bob Squarepants luidkeels op die televisie weerklink het. Ek is bly om te sê dat jou resep steeds gewerk het, heerlik was en net so stylvol is soos jy.

Monaco-Moelleux au Chocolat

Dié Franse gâteau is te kry by die meeste Franse patisserieë. Hierdie resep het Jan by die Prince’s Tea-patisserie in Monaco gekry – koninklik!

Monaco-sjokoladekoek uit The French Affair deur Jan Hendrik vd Westhuizen

Genoeg vir 6 mense

Maklik

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 10-12 minute

250 g donkersjokolade van ’n goeie gehalte met ’n kakao-inhoud van minstens 65%

½ k (125 ml) botter, kamertemperatuur

4 eiers, geskei

½ k (125 ml) suiker

3 e (45 ml) koekmeel

knippie sout

vars bessies, room of crème anglaise vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 20 cm-koekpan met botter en skud dit met meel. Voer uit met bakpapier.

1 Smelt die sjokolade en botter saam in ’n dubbelkoker of mikrogolfoond. Maak seker die sjokolade brand nie aan nie.

2 Meng intussen die eiergele met die suiker in ’n ander bak tot lig en donsig.

3 Klop die eierwitte tot dit stywe punte vorm.

4 Voeg die sjokolademengsel by die eiergeelmengsel.

5 Sif die meel en sout in die sjokolademengsel en roer tot goed gemeng. Voeg die eierwitte geleidelik by; maak seker die beslag bly lig. Moenie te veel meng nie.

6 Skep die beslag in die voorbereide koekpan en bak 10-12 minute. Laat 10 minute in die pan afkoel en keer uit.

7 Sit voor met bessies, room of crème anglaise.

Kool, tesame met ander groente, is steeds hoog op die lys van trendy bestanddele vir 2014, en ek het dus ook Jan se koolgebak met bloukaas en okkerneute probeer. Nog ’n wenner.

Koolgebak met bloukaas en okkerneute

Hierdie gereg is so maklik; dis eintlik ’n bietjie van ’n verleentheid. Bloukaas, kool en okkerneute is ’n klassieke kombinasie, veral as die kool vars uit die tuin kom.

Kool met bloukaas en okkerneute

Genoeg vir 4-6 mense

Maklik

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 50 minute

6 babakole, in kwarte gesny

sout en vars gemaalde swartpeper

1 k (250 ml) bloukaas, gekrummel

½ k (125 ml) okkerneute, gekap

1 k (250 ml) room

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1 Rangskik die koolkwarte in ’n oondvaste bak en geur met sout en peper.

2 Strooi die bloukaas oor die kool en sprinkel die okkerneute bo-oor. 3 Giet die room oor. 4 Bak 40-50 minute tot sag. Wenk ’n Ligte sprinkeling vars gemaalde neutmuskaat gee nog ’n dimensie aan dié gereg. Ek wil ook graag die boek-ontwerpers Fred Viljoen en Beverley Dodd gelukwens met hulle deel aan die French Affair. Dit was regtig uitstekende werk. Beverley was ook verantwoordelik vir die ontwerp van ons boeke Cakes To Celebrate Love and Life en Cakebread Pudding & Pie. Die eersgenoemde het in 2009 ook ’n Gourmand (sien onder) ontvang vir Suid-Afrika se “best baking book”. ONS IS WENNERS!

Ons was trots om te hoor dat ons nuutste boek, Onthaal op Groot Skaal, benoem is as wenner in die kategorie “best entertainment book South Africa” in die World Gourmand Cookbook Award.

Voorblad van kookboek Onthaal op groot skaal

Die wenners uit elke land oor die wêreld heen moet nou in die verskeie afdelings meeding vir “The Best in the World”. Die algehele wenner word op 20 Mei 2014 in China by die Beijing-Kookboekfees bekend gemaak.

Groot dankies weer eens aan Human & Rousseau, die fotograaf Melody Deas en Petal Design.

Groetnis tot volgende keer!

- Mari-Louis

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.