Yahoo het Woensdag sy nuwe embleem, met dunner letters maar wat nog die kenmerkende pers kleur en uitroepteken het, bekendgestel.

“Ons wou ’n embleem hê wat getrou bly aan ons herkoms (sonderling, pers, met ’n uitroepteken) maar wat ook die evolusie van ons produkte saamvat,” het Yahoo se bemarkingshoof, Kathy Savitt, in ’n Tumblr-blog gesê.

Die aangepaste embleem kom terwyl die internetpionier hulle steeds probeer herskep nadat Google hulle in die wêreld van internetsoektogte heeltemal oorskadu het.

Volgens Kathy is die skietende internetster se nuwe simbool herontwerp sodat dit beter uitbeeld wat die maatskappy wil wees onder leiding van die bestuurshoof, Marissa Mayer.

Sy het gesê dat Yahoo ook sy “bekende jodel” sal behou.

Sedert die voormalige Google-bestuurshoof Mayer vroeg verlede jaar baas by Yahoo geword het, het die Kaliforniese maatskappy meer as 20 beginners opgeraap, onder meer die biljoendollar-blogplatform Tumblr.

Mayer se plan om nuwe lewe in Yahoo te blaas behels om prioriteite te maak van selfone, video’s, verpersoonlikte digitale inhoud en om die maatskappy se gewildheid buite die Verenigde State te verhoog.

“Omdat die maatskappy vinnig ontwikkel, moet ons embleem, die wese van ons handelsmerk, dit ook te doen,” het Kathy gesê.

Om belangstelling oor die verandering van die bekende pers embleem te wek sal Yahoo Amerikaanse besoekers daagliks met variasies op die tema vermaak tot die nuwe embleem in gebruik gestel word.

-   SAPA

sapalogo