Die ontevredenes wil hê die regering moet oplossings soos voertuigfinansiering voorsien pleks daarvan om hul bedryf tot stilstand te dwing, het GroundUp berig.

Van ons lede het hul pensioengeld gebruik om hul bakkie te koop, terwyl ander lenings aangegaan het.

Verlede week het tientalle lede van die Nelson Mandelabaai Vervoerdienste (NMBVD) by die stadsaal in Port Elizabeth aangedui hulle sal voortgaan om skoolkinders met hul bakkies te karwei. Die NMBVD verteenwoordig bakkiebestuurders wat skoolkinders in hul metro vervoer.

Foto: Joseph Chirume, GroundUp

Die NMBVD-woordvoerder, Xolisile Ntantiso, het gesê: “Ons het geen ander manier waarop ons ’n inkomste kan verdien nie. Ons is nie gekant teen wat die regering sê nie, maar ons moet eers bymekaarkom en die saak bespreek . . . Van ons lede het hul pensioengeld gebruik om hul bakkie te koop, terwyl ander lenings aangegaan het.

“Ons het die volle steun van ouers wie se kinders deur ons vervoer word. Hulle en hul kinders maak saam met ons kapsie daarteen,” het hy gesê.

'n Ouer het die regering se leerdervervoer as “ ’n gemors” beskryf

“Die regering het ons bestaan erken en die belangrikheid daarvan om arm kinders te laat skoolgaan. Hoekom kan hulle nie nou help om hierdie besigheid uit te brei nie?” wou hy weet.

’n Ouer van Gelvandale, Maria Mills, sê hulle moet noodgedwonge van die bakkiediens gebruik maak. Sy het die regering se leerdervervoer as “ ’n gemors” beskryf.

“Ek wil hê my kinders moet betyds by die skool kom. Die bakkie laai hulle by my huis op en by die skoolhek af. Dieselfde bakkie bring hulle huis toe – sonder die gevaar dat hulle beroof word.”

Sy betaal R800 per maand vir bakkievervoer vir haar twee dogters na ’n skool in Kabega Park.

Mkhululi Lamani, wat skoliere van Wells Estate en Motherwell na skole op Korsten vervoer, sê sy besigheid sal ten gronde gaan as hy nie meer sy bakkie mag gebruik nie.

“Ek het nie ander werk nie, en dis baie moeilik om na my vrou en kind om te sien. Die bakkie is ons enigste bron van inkomste.

“Ons staan nie die regering se planne teen om die bedryf te reguleer nie. Ons pleit net dat hulle ’n alternatiewe voertuig in plek sal stel. Ek is bereid om ’n lening aan te gaan vir ’n beter voertuig om in die bedryf te bly,” het hy gesê.

Die wet is nie daarop gemik om mense sonder ’n inkomste te laat nie; dit gaan oor die veiligheid van ons kinders

Sipho Jacobs van Motherwell ry ook met ’n bakkie. “Die vervoer van skoolkinders in die provinsie word power hanteer. Ons speel ’n baie belangrike rol deur kinders na hul onderskeie skole te vervoer.

“Ons is ook woedend vir die polisie, wat ons ’n belaglike boete van R7 000 oplê as jy herhaaldelik oortree. Hulle lê selfs beslag op voertuie.”

Dit is ’n regulasie wat deur die nasionale parlement aanvaar is en dis elke polisiebeampte in die land se plig om dit toe te pas

Raadslid John Best van die Nelson Mandelabaai munisipale burgemeesterskomitee vir vervoer het gesê “die wet is nie daarop gemik om mense sonder ’n inkomste te laat nie; dit gaan oor die veiligheid van ons kinders.

“Ons beamptes sal beslis die wet toepas, want dit is ’n regulasie wat deur die nasionale parlement aanvaar is en dis elke polisiebeampte in die land se plig om dit toe te pas.”

 Khuselwa Rantjie, woordvoerder vir die Oos-Kaapse departement van vervoer, het bevestig die klem moet val op die veilige vervoer van skoolkinders.

“Kragtens wet kan dit nie met ’n bakkie gedoen word nie, want dis nie veilig genoeg nie. Daar moet vir elke passasier ’n gemaklike sitplek en ’n sitplekgordel wees.

“En elke voertuig wat vir openbare vervoer gebruik word, moet ’n nooduitgang hê waardeur ontsnap kan word in geval van ’n ongeluk,” het sy gesê.

Bron: news24.com