Die portefeuljekomitee vir kommunikasie het Dinsdag in Kaapstad vergader en ’n openbare sitting aangebied oor of wraakporno, soos dié fenomeen bekendstaan, onwettig verklaar moet word. Dit sluit nie net kaalfoto’s in wat uit wraak versprei word nie, maar enige eksplisiete of naakte foto’s wat sonder die mens daarop se toestemming versprei word. “Slagoffers bevind hulle in ’n absoluut hulpelose posisie as so iets met hulle gebeur,” het die prokureur Emma Sadleir gesê. Sy beywer haar vir die strenger wetgewing en sê dis hoog tyd dat mense wat ander hierdie soort vernedering en privaatheidskending onderwerp daarvoor boet. Sy en ander voorstanders vra dat wysigings aan die Wet op Rolprente en Publikasies aangebring word om dié soort gedrag ’n wetsoortreding te maak.

Sy en ander regskenners, soos adv. Pierre Smith van die nasionale vervolgingsgesag se afdeling vir seksmisdade en gemeenskapsake en Ryan Smith van die menseregtegroep Cause for Justice, het aan die openbare sitting deelgeneem. Ben Winks, ’n regskenner, was ook onder andere daar.
Die onlangse geval op Schweizer-Reneke in Noordwes (waar ’n ma per ongeluk ’n intieme foto van haarself aan ’n WhatsApp-groep gestuur het en dié foto soos ’n veldbrand versprei het) is ook opgehaal. Daar is veral aandag gegee aan tieners en jong mense wat geneig is om naakfoto’s te stuur en ontvang en selfs te versprei.

“Dis deesdae ’n sosiale norm vir tieners om kaalfoto’s na mekaar te stuur,” het sy gesê en beklemtoon veral tieners is hiervoor vatbaar.