STEL jou dit voor: ’n Huisgenoot waarin jy niks mag lees van ’n korrupte polisiehoof wat derduisende, dalk miljoene rande van sy vriend, ’n selferkende dwelmbaas, ontvang het nie.

Of verbeel jou ’n Huisgenoot waarin geen woord geskryf staan oor onwettige wapentransaksies of ’n ‘‘skenking’’ van R11 miljoen wat die ANC uit die staatsoliefonds, PetroSA, gekry het nie.

Ja, dit kan gebeur, want jy woon in ’n land waar dit onwettig kan word om te skryf van dinge soos kindersterftes in staatshospitale, of om selfs te probeer uitvind hoe dit gebeur het dat ons eertydse minister van gesondheid, dr. Manto Tshabalala-Msimang, so vinnig ’n nuwe lewer gekry het.

Sulke salige onkunde oor allerlei magsmisbruik, staatskorrupsie en onbevoegdheid is ons voorland as die nuwe Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting deur die parlement aanvaar word.

Gebeur dit, sal die regering enige staatsinligting na goeddunke kan klassifiseer en mense wat oortree, vervolg.

As dié wet al van krag was toe joernaliste inligting van polisiebronne gekry het oor die twyfelagtige kontakte van die voormalige polisiehoof Jackie Selebi, sou hulle tronkstraf van tot 25 jaar kon gekry het as dié dokumente geklassifiseer was.

Huisgenoot se artikels van die afgelope jare oor die berugte Shaik-familie se verbintenisse met pres. Zuma sou nooit geskryf kon gewees het nie.

En vorentoe, met so ’n wet op die boeke, lyk dinge maar bedroef. As die minister van polisie, Nathi Mthethwa, byvoorveeld vorentoe weer sou besluit om byna ’n kwartmiljoen rand te blaas op verblyf in een van Kaapstad se swierigste vyfsterhotelle vir hom en sy sewe wagte, sou hy dit met ’n handtekening op ’n dokument onwettig kon maak dat ons ’n woord daarvan hoor.

Lees die volledige artikel oor die voorgestelde omstrede mediawet in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010