Ná maande se gewag het die nagmerrie vir Fabian Luff (32), een van die verdagtes in die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoordsaak, Donderdagoggend binne enkele minute tot ’n einde gekom.

“Ons het geweet hy is onskuldig,” het Xenia Luff, Fabian se suster, ná sy vrylating verlig en tevrede gesê. “Dit was ’n baie moeilike tyd vir ons hele familie.”

Lees ook: Krugersdorp-afspraakmoordsage verdiep, ’n agtste verdagte vasgetrek

Mense het die Roodepoort-landdroshof vol gesit, en baie het angstig gewag dat Fabian voorkom. Staatsadv. Jackie Steyn het aangedui die aanklagte van onder meer van moord en roof met verswarende omstandighede word teruggetrek nadat verdere ondersoek getoon het Fabian is onskuldig betrek. Hy is daarna vrygelaat.

Leroux Steyn (20), sy suster, Marcel (18), en Christiaan Kruger (29) is steeds agter tralies vir die moord op Hanlé Lategan (52), ’n eiendomsagent, en die versekeringsmakelaars Anthony Scholefield (64) en Kevin Mc Alpine (29).

Hulle is in Mei vanjaar beroof en vermoor.