Bankkliënte moet bewus wees van bankverwante slenters om te voorkom dat hulle daarvan ’n slagoffer word, sê die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric).

“Ons wil kliënte maan om waaksaam te wees in die feesseisoen, veral vir slenters wat reuse opbrengste met min moeite beloof,” sê die uitvoerende hoof, Kalyani Pillay, in ’n verklaring.

Dit sluit “voorskot-slenters” in, waar die slagoffer per SMS of e-pos ingelig word hulle het ’n prys gewen en moet iemand kontak om dit op te eis.

Maar die bedrieër sal die slagoffer probeer oortuig hulle moet ’n fooi betaal om die prys te kan opeis.

Die publiek word ook gewaarsku teen deposito-en-terugbetaling-slenters. Dit behels dat ’n misdadiger goedere of dienste by ’n onderneming of mens bestel en dan geld – dikwels ’n vervalste tjek – as betaling deponeer.

Die misdadigers stuur dan dikwels ’n “bewys van betaling” vir die vrystelling van die gekoopte item of versoek dringend ’n terugbetaling.

Wanneer die bank die tjek verwerk en ontdek dit is ongeldig, of agterkom geen betaling is gemaak nie, word die krediet op die slagoffer se bankrekening omgekeer.

Gevolglik word geen geld na die slagoffer se rekening oorgeplaas nie en sit die slagoffer sonder die geld en die goedere.

Sabric beveel aan die publiek slaan ag op die volgende gesegde: As iets te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik die geval.

“Swendelaars gebruik dikwels die naam van ’n betroubare onderneming om mense te probeer oortuig hul slenter is wettig,” sê Kalyani.

“Moenie ongevraagde kommunikasie sonder meer aanvaar nie.”

- Sapa