Die polisie het egter nog niemand in hegtenis geneem nie en talle vrae oor die moorde is nog onbeantwoord.

Die moordhuis op die gholflandgoed De Zalze word steeds deur ’n polisie-ondersoekspan beset.

Die Sunday Times berig egter dat, volgens getuienis, Henri van Breda, die 20-jarige oorlewende van die gruwelike aanval, die nooddienste eers vier uur ná die aanval plaasgevind het, gebel het. Henri het ook talle beserings aan sy lyf gehad.

Volgens die koerant het Henri die aanval die oggend van 27 Januarie eers om 07:30 aangemeld, alhoewel dit reeds om 03:30 gebeur het. Henri en sy 16-jarige suster, Marli, was die enigste oorlewendes. Sy is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal op Stellenbosch.

Volgens die Sunday Times is daar bloedmonsters van Henri geneem ná die aanval.

News24 het berig dat Marli, wat ernstige kopbeserings en 'n snywond aan haar hoofslagaar opgedoen het, wakker is en dat sy vir die eerste keer sedert die aanvalle begin praat het.

Volgens 'n bron ná aan die familie, kan sy reeds eenvoudige vrae soos “wie is jy?” en “watter jaar is dit?” beantwoord.

Rapport het ook bevestig dat ’n advokaat wat namens Shrien Dewani opgetree het, deur die Van Breda-familie genader is om Henri te verteenwoordig.

Bronne: Sunday Times, Rapport, News24