In ’n onverwagte wending het die Sweedse owerhede Vrydag bekend gemaak hulle gaan vir eers hul verkragting-ondersoek teen die omstrede Wikileaks-stigter Julian Assange (45) laat vaar.

Vervolgers in Swede het Vrydag verklaar hulle staak die ondersoek, wat daartoe bygedra het dat Assange (Julian Paul Hawkins), 'n Australiër, vyf jaar gelede toevlug by Ekwador se ambassade in Londen gaan soek het.

Assange het deurgaans volgehou hy is onskuldig. Volgens hom het hy die vrou wat hom van verkragting beskuldig het in 2010 gedurende 'n besoek aan Swede ontmoet. Die vrou het 'n duidelike begeerte openbaar "om seksuele omgang met my te hê", het hy in verklaring rakende hul verhouding gesê - en hulle is op goeie voet uitmekaar nadat hulle verskeie kere seks gehad het.

Die Sweedse wetstoepassers se besluit beteken egter blykbaar nie Assange kan nou kom en gaan nes hy wil nie. Arrestasie weens versuim om in die hof te verskyn, staar hom steeds in Brittanje in die gesig. Die Londense polisie het trouens nou gesê hulle sal hom steeds in hegtenis neem as hy die ambassade probeer verlaat.

Assange het ook tot nou geweier om sy saak in Swede te gaan stel uit vrees dat hy aan Amerika uitgelewer sou word. Die Amerikaanse departement van justisie het dit juis weer in April oorweeg om hom aan te kla weens sy aandeel in die onthulling van hoogs vertroulike inligting.

Dié inligting het volgens VSA-regeringsamptenare diplomatieke betrekking en staatsveiligheid ondermyn . . . en die kwessie het weer verlede maand stoom opgetel toe Jeff Sessions, prokureur-generaal, verklaar het dat Assange se inhegtenisname 'n voorkeursaak vir die justisiedepartement is. Dis egter onseker of Amerikaanse wetstoepassers hom weens die ernstigste klagtes teen hom sal kan vervolg - van spioenasie rakende sy aandeel in die openbaarmaking van geklassifiseerde dokumente saam met weermagintelligensieoffisier Chelsea Manning jare gelede. Manning is vroeër vandeesweek vrygelaat nadat sy tronk toe gestuur is omdat sy in 2010 geheime lêers aan WikiLeaks bekend gemaak het. Die transseksuele Manning is oorspronklik 'n baie strawwe, ongehoorde vonnis van 35 jaar opgelê, maar pres Barack Obama het haar vonnis versag.

Marianne Ny, Swede se hoofvervolger, het nou benadruk hul stap moenie as 'n beoordeling betreffende Assange se onskuld of skuld beskou word nie. Dit het meer te make met hul twyfel of hulle ooit, weens 'n gebrek aan onder andere Ekwador se samewerking, die ondersoek suksesvol sou kon afhandel. En weens sekere Sweedse wetlike beperkings sou die ondersoek steeds heropen kon word as hy voor Augustus 2020 na Swede terugkeer.

Die Londense polisie het intussen verduidelik dis merendeels prosedure wat hulle sal noop om Assange steeds te arresteer. Hy het in Junie 2012 geweier om hom oor te gee, en hulle sou nog "verplig wees" om die destydse lasbrief vir sy inhegtenisname uit te voer.

"Noudat die Sweedse owerhede hul ondersoek gestaak het, word mnr Assange steeds vir 'n baie minder ernstige oortreding gesoek," sê hulle in 'n verklaring.

Bronne: BBC, Reuters, CNN