En talle syfers en feite in die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se jongste navorsingsverslag wys nou dié soort beskrywings van ons rustelose jeug is nie oordrewe nie.

Meer as 44 persent van 18- tot 34-jariges is werkloos of leer nie verder nie. Dis een van die kritieke bevindings in dié verslag, getiteld A Powder Keg in our Midst, van die IRV se sentrum vir risiko-ontleding.

Daarby toon verskeie ander bevindings daarin die burgerlike samelewing, sakewêreld en staat sal dringend moet begin saamspan om dié ingewikkelde uitdaging die hoof te bied.

"Die syfers is 'n belangrike aanduider van jong mense se omstandighede . . . en hulle is gewis onrusbarend,” sê Unathi Matwasa, IRV-ontleder. Meer as die helfte van 23-jariges en amper ewe veel 28-jariges werk of leer byvoorbeeld nie, noem sy. "Die jeugwerkloosheidsyfer, volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid, is 46,7 persent.”

Lees ook: Hoe weet ek of ek kwesbaar is vir misdaad? Vind hier uit

Ewe kommerwekkend is dat algehele indiensneming van 2001 tot 2015 met 25,3 persent toegeneem het, maar jong mense s'n met net 13,4 persent. "Die bevolking van ekonomies aktiewe jong mense groei dus teen slegs omtrent die helfte van die tempo van die algehele ekonomies aktiewe bevolking.” Dit wys hoe moeilik dit vir jong mense is om in die landsekonomie opgeneem te word.

"Die term 'kruitvat' word maklik rondgegooi in besprekings oor SA se jong mense en werkloosheid. Maar dié verslag bevestig dis 'n raak beskrywing . . .''

Die 10 vernaamste IRV-bevindings sluit voorts in:

  1. Ses uit 10 werklose jong mense is vir langer as 'n jaar sonder werk. Die IRV sê dit laat hul eindelike kanse op werk grootliks verskraal.
  2. 'n Toenemende aantal jong mense migreer uit plattelandse gebiede na Gauteng en die Wes-Kaap. Gauteng het byvoorbeeld meer as 2 miljoen jong inwoners wat in ander provinsies gebore is.
  3. Net die helfte van kinders wat in gr. 1 inskryf, kan verwag om gr. 12 te bereik. Die getal jong mense aan universiteite het skerp toegeneem, maar dié wat eindelik klaarmaak, is baie minder as dié wat inskryf. Dis ook te wyte aan swak basiese onderwys wat leerders nie op universiteit voorberei nie.
  4. Net sowat ’n tiende van die gr. 10's wat in 2013 ingeskryf het, het twee jaar later wiskunde in matriek geslaag.
  5. Net ’n vyfde van 21- tot 25-jariges is aan 'n opvoedkundige instelling ingeskryf, ongeag die toenemende vraag na hoëvlakvaardighede in 'n toenemend hoëtegnologie-ekonomie.
  6. Intussen het die demografie van universiteitstudente wel baie verander: die getal swart ingeskrewenes het van 1986 tot 2014 met byna 1 140 persent toegeneem, bruin ingeskrewenes met 345 persent en Indiër- en Asiër-ingeskrewenes met 145 persent, terwyl wit ingeskrewenes met 6,5 persent gedaal het.
  7. Algeheel het die inskrywingsyfer met sowat 250 persent toegeneem, maar die IRV maan finansiering en infrastruktuur het nie tred gehou met die vraag nie.
  8. Van 2009 tot 2014 het die getal jong mense met werk in werklikheid afgeneem. Die IRV vrees dit kan radikalisme aanblaas en dat dit niks goeds vir toekomstige ekonomiese en politieke stabiliteit voorspel nie.
  9. Minstens 60 persent van oortreders by gewelds- en eiendomsverwante misdaad blyk 16 tot 34 jaar oud te wees. Die IRV meen dis onwaarskynlik dat langtermynbeleid teen misdaad sal slaag voor baie meer jong mense in die ekonomie betrek word.
  10. Terselfdertyd maak jong mense ook 'n baie groot deel van misdaadslagoffers uit.

Een ligpunt betreffende jong SA is 'n heelwat laer MIV-voorkomssyfer onder jong mense (6,4 persent vergeleke met die algehele syfer van 10,9 persent). Dit dui op 'n groter bewustheid van MIV/vigs onder jong burgers.

Lees ook: ’n Onderwyser se pleidooi

Die kwessies, in volgorde van belangrikheid, waar jong mense die dringendste vordering wil sien: werkloosheid en werkskepping; armoede; misdaad; korrupsie en oneerlike staatsamptenare; ontwikkeling en infrastruktuur soos water, elektrisiteit, paaie, behuising; onderwys, onderwysstandaarde en -gelykheid; gesondheid; en grondhervorming.