Die soektog na Vlug MN370 duur voort

Die premier van Maleisië, Najib Razak, sê satellietverslag bewys dat die vliegtuig aanhou vlieg het en die ondersoekspan probeer bereken hoe ver dit sou kon gaan.

Bronne het aan Reuters gesê die vliegtuig het oos gevlieg in die rigting van die Andaman-eilande.

Volgens die premier probeer die ondersoekspan die vliegtuig oor twee moontlike “korridors” volg – noordelik van die grens van Kazakstan en Turkmenistan na die noorde van Thailand, en suid van Indonesië na die suidelike Indiese Oseaan.

Intussen het die The Associated Press (AP) berig ’n amptenaar van Maleisië sê daar is “geen twyfel nie” dat die vliegtuig gekaap is. Die premier het dié teorie nie bevestig nie.

Die vliegtuig van Malaysia Airlines met 239 mense aan boord het verlede Saterdag net spoorloos verdwyn terwyl dit van Koeala Loempoer na Beijing onderweg was.

Amptenare meen nou ’n mens of groep met “heelwat vliegervaring” het die vliegtuig gekaap, al die kommunikasietoestelle afgeskakel en dit van koers af gestuur. Die vliegtuig het glo alle kommunikasie beëindig net ’n uur nadat dit opgestyg het.

’n Uitgebreide soektogte deur twaalf lande het nog niks opgelewer nie.

Daar is wel aanduidings dat militêre radar die vliegtuig moontlik opgetel het.

’n Amerikaanse amptenaar het ook aan AP gesê dit lyk asof die vliegtuig se transpondeerder afgeskakel is sowat 12 minute voordat die boodskapstelsel op die vliegtuig ingegee het. Só ’n gaping lyk onwaarskynlik in die geval van ’n groot meganiese probleem op die vliegtuig.

Bron: Sapa