Die base van Suid-Afrikaanse, Nieu-Seelandse en Australiese Rugby (Sanzar) is na bewering besig om ’n nuwe formaat vir Superrugby te bespreek.

Volgens een van die voorstelle sal Suid-Afrika glo sy eie kompetisie hê, met ses spanne en moontlik ’n Argentynse span ook. Die spanne van Australië en Nieu-Seeland sal ’n tweede kompetisie vorm, moontlik saam met ’n span uit Asië.

“Die uitdaging is: Hoe skep jy met ’n beperkte hoeveelheid weke in die jaar ’n kompetisie wat integriteit het in sy struktuur, wat almal betrokke hou en wat die behoeftes van die drie hooflande bevredig?” het die hoof van Sanzar, Greg Peters, gevra.

Die huidige formaat, wat vyf spanne van elke Sanzar-land betrek, is problematies vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Dié wil graag plek maak vir ses spanne sodat die Kings en die Lions kan deelneem. Die twee spanne speel op die oomblik promosie-relegasie-wedstryde om te bepaal wie volgende jaar die vyfde Suid-Afrikaanse span in die reeks sal wees.

Bron: Sydney Morning Herald