sassamain

Sassa maan in ’n onlangse verklaring teen ’n nuwe slenter wat begunstigdes per SMS inlig dat hulle teen 1 Januarie ’n nuwe kaart moet kry.

“Sassa het nog nooit per SMS met begunstigdes gekommunikeer nie en begunstigdes word gewaarsku om nie op dié SMS’e te reageer nie, want dit word deur skelms gestuur,” maan die Sassa-woordvoerder Kgomoco Diseko in die verklaring.

Volgens Kgomoco is daar geen nuwe kaarte nie.

“Begunstigdes moet op die uitkyk wees vir mense wat hul persoonlike en kaartbesonderhede aanvra en maak asof hulle vir Sassa werk. Sassa doen sake vanuit sy eie kantore en mense moenie uitnodigings na enige ander kantore aanvaar nie.”

Kgomoco sê ook die Sassa-kaart is die kleure van die landsvlag en nié groen nie.

“Die gevaar is dat geld afgetrek kan word as mense op die SMS’e reageer, of dat dit beteken transaksies vind plaas wat nie deur die persoon goedgekeur is nie.”

Volgens Kgomoco moet sulke SMS’e net geïgnoreer word.

Hy waarsku verder dat jou identiteit gesteel kan word as jy al jou persoonlike inligting aan skelms uitlap.

Barbara Ntayiya, van NU2 Mdantsane naby Oos-Londen, het in dié strik getrap en selfoonlugtyd en koopkrag is van haar maatskaplike toelae afgetrek, berig Dispatch Live.

Sy besit nie eens ’n selfoon nie. Barbara is glo in Mei deur ’n onderneming genaamd “Net 1” aangeraai om aansoek te doen om ’n groen Sassa-kaart. Sedert sy dié kaart gekry het, word daar geld van haar toelae afgetrek en kry sy nie meer die volle bedrag wat haar toekom nie.

Mense wat onseker is oor kommunikasie wat hulle van Sassa ontvang, kan Sassa by 0800 60 10 11 bel om uit te vind of dit die ware Jakob is of nie.