Sunita (31), haar man, Jacques (30), en hul hond, Skollie, het in die vroeë oggendure van 10 Mei in ’n vlammehel op die plaas Oakdene buite Wellington gesterf.

Die nadoodse verslag het glo aangedui dat die beserings soortgelyk is aan wanneer iemand verwurg word, het News24 berig

Sunita en Jacques, wat vyf jaar getroud was, is glo in die badkamer aangetref. Jacques was die bestuurder van die plaas Oakdene, waar hulle gewoon het, en Sunita ’n onderwyseres aan die Laerskool Gimnasium in die Paarl.

Die polisie is kwart oor drie die oggend van die brand in kennis gestel. 

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die nadoodse verslag het die nekbeserings bevestig. Sunita is glo dood aan rookinaseming. “ ’n Geregtelike ondersoek word gedoen,” het sy gesê.

Dit is nog nie bekend hoe Sunita die nekbeserings opgedoen het nie. Volgens Rwexana is dit ook nog nie bekend hoe die brand ontstaan het nie.

Sedert Sunita se dood het verskeie gerugte die ronde gedoen dat Sunita en Danie le Roux, skoolhoof van die Laerskool Gimnasium, glo ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Hulle het dit glo in Februarie vanjaar beëindig. 

Danie het verlede week vir die eerste keer in die openbaar gereageer ná gerugte dat hy ’n verhouding met Sunita gehad het. Hy het in die skool se nuusbrief, Kitsnuus, wat aan ouers uitgereik word, gereageer op die gerugte, het Huisgenoot vroeër berig.

In die nuusbrief sê hy onder meer hy het professionele grense “met iemand wat hy gementor het” oorskry, daardie grense het vervaag en daaroor is hy jammer. Hy noem egter nooit die mens op die naam met wie hy sy “professionaliteit oorskry” het nie.