tech_rockscropped

Die Z-2-pak is die bygewerkte weergawe van sy voorloper, die Z-1, en het boonop die gesogte Time Magazine se lys van die beste uitvindsels vir 2012 gehaal.

Die ruimtepak het ’n rits nuwe kenmerke, soos 3D-laserskandeerders wat sorg dat die pak elke draer perfek pas en ’n spesiale bolyf wat die draer teen botsings beskerm. Dit is ook die heel eerste ruimtepak wat spesifiek gemaak word met die ruimtetuig se lugprop in gedagte sodat die vaarders maklik en veilig die vaartuig kan verlaat.

Dit is ook nie net op tegnologiefront waar die pak uitblink nie, maar ook op die modefront. Die pak is keurig ontwerp en die publiek kon uit drie moontlike ontwerpe kies en vir hul gunsteling stem.

Die “Technology”-ontwerp het die meeste stemme gekry, en is ’n modieuse kombinasie van donkergrys en blou, wat “ruimtepakke se reeks mylpale eer deur ouer en moderner ontwerpe te kombineer”.

Bron: jscfeatures.jsc.nasa.gov/z2/