Vanjaar het Ferdi Burger (41) die leisels by Nina Swart oorgeneem. Hy werk al van 2005 af as vryskut-assistentregisseur vir die vervaardigersmaatskappy wat verantwoordelik is vir Boer Soek ’n Vrou. Ferdi het ook aan onder meer Known Gods, Ella Blue, League of Glory, Transito en Vloeksteen gewerk.

“Boer Soek ’n Vrou is ’n groot uitdaging,” sê Ferdi. “Omdat dit ’n werklikheidsreeks is, kan ’n mens jou nie vir elke situasie voorberei nie. Jy moet heeltyd op jou voete dink en ook weet hoe om met mense te werk wat nog nooit voor ’n kamera was nie. Die taak van regisseur wees vir hierdie reeks is ’n uitdagende een, want jy het te doen met deelnemers se harte. Op enige dag op stel loop die emosies hoog,” vertel hy verder.

Huisgenoot het hom ’n paar vrae gevra.

Het jy die vorige reekse van Boer Soek ’n Vrou gekyk? Indien wel, wat was jou gunsteling-storielyn en hoekom?

“Ja! Jacobus en Ina se storie van seisoen 3 was opwindend om te volg. Jy kon deur die loop van die reeks sien hoe iets tussen hulle begin gebeur en hoe ’n verhouding ontwikkel. Hulle is ’n weerspieëling van waaroor Boer Soek ’n Vrou gaan. Ek was saam met almal opgewonde toe ek hoor hulle het verloof geraak.”

As jy ’n boer moes wees, waarmee sou jy boer en hoekom?

“Ek sou graag ’n wynboer wou wees. Omdat ek van Johannesburg kom, het die pragtige wingerde van Stellenbosch en omgewing nog altyd ’n groot indruk op my gemaak. Die hele proses van wyn maak is fassinerend en ek hou ook natuurlik baie van die eindproduk.”

Wat gaan jy tot die nuwe reeks bydra?

“Dit is altyd moeilik om te verbeter op ’n program wat reeds so suksesvol is danksy almal wat die vorige vyf jaar daaraan gewerk het. Ek gaan probeer om die reeks binne die gevestigde formule opwindend te hou deur dit te laat vloei met meer betrokkenheid van Angelique by die boere en om al die emosies en drama waardeur die boere en dames gaan vas te vang op kamera. Die doel is om die kykers te laat voel dat hulle niks misloop nie. Waar ek dink dit is nodig, sal ons meer kameras gebruik om alles vas te vang.”

Hoe gaan jou uitkyk en perspektief anders wees?

“Ja, elke program of film kan net so suksesvol wees soos die karakters wat daarin speel. Daar is vanjaar weereens 10 uitstekende boere en ek voel dit is my plig om elkeen se ware karakter uit te bring sodat ons weet wie hulle regtig is.

“Ek het tot dusver ’n goeie verhouding met elkeen van die boere opgebou en ek dink hulle vertrou my om hul stories aan die kykers te vertel. Hierdie ouens het uiteenlopende persoonlikhede en my benadering tot elkeen gaan uniek moet wees.”

Wat kan ons van die nuwe reeks verwag?

“Drama, nog drama, emosies en baie snaakse sêgoed. Ons het saam met die boere en die dames gehuil, ongemaklik gevoel en gelag dat die trane loop. Dis werklikheid dié, en eg Suid-Afrikaans!”

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou gesin?

“Ek en my vrou, Janet, is nou al drie en ’n half jaar lank getroud. Sy is baie ondersteunend wanneer ek lank van die huis af moet weg wees om Boer Soek ’n Vrou te skiet. Sy het haar eie onderneming in Johannesburg.”

Watter drie interessanthede of vreemdhede oor jouself kan jy vertel?

  • “Ek is ’n vennoot by Orlando Towers Bungee & Freefall in Soweto. Ek is mal oor adrenaliensport, maar doodbang vir haaie.”
  • “Ek DJ gereeld saam my broer en vriende – ouskool, nog op vinyls – wanneer ons die kans kry. Ek geniet dit om mense op ’n dansvloer gelukkig te sien.”
  • “Ek is mal oor rou uie en broccoli en ek eet dit asof dit appels is.”