Die implementering van twee van die nuwe immigrasieregulasies oor reisende minderjariges gaan weer uitgestel word, hierdie keer tot 1 Junie 2015, het die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, Dinsdag aangekondig.

Dit verwys na die vereistes dat kinders ’n volledige geboortesertifikaat en geskrewe toestemming van albei ouers of voogde moet hê om die kind se reis te magtig.

“Ons het die uitstel van hierdie twee spesifieke vereistes, die volledige geboortesertifikaat en geskrewe toestemming, tot 1 Junie 2015 toegestaan,” het Malusi aan verslaggewers by die parlement gesê.

Die regulasies sou op 1 Julie in werking tree, maar het baie kritiek uitgelok, want ouers het gekla hulle wag tot ’n jaar vir ’n volledige geboortesertifikaat van die departement.

Die departement het toe drie maande uitstel gegee en 1 Oktober as die nuwe implementeringsdatum deurgegee.

Maar Malusi het gesê belanghebbendes het die departement in kennis gestel dit laat nie genoeg tyd om die toerismebedryf en sendings in die buiteland van die nuwe reëls te verwittig nie, en dat dit ouers ook nie genoeg tyd gee om die nodige dokumente te kry nie.

Die toerismebedryf het ook genoem dat die regulasies gesinne se reisplanne vir Kersfees kan raak.

Die minister het weer voorgestel dat die die protes deels ontstaan het ??omdat buitelanders, wat met hul kinders Suid-Afrika toe wil reis, nie die nuwe vereiste vir ’n geboortesertifikaat nie behoorlik verstaan nie.

“ ’n Volledige geboortesertifikaat is slegs ’n geboortesertifikaat van die verantwoordelike gesag in hul land met die besonderhede van die kind se ouers.

“In die geval waar dié inligting op die kind se paspoort vervat word, sal dit ook aanvaarbaar wees.”

Om Suid-Afrikaanse ouers se logistieke probleme te verlig, het die departement gesê hulle sou pogings bespoedig om volledige geboortesertifikate te kry van die nagenoeg 16 miljoen kinders wat tussen 1996 en Februarie 2013 gebore is.

In Maart verlede jaar het hulle by geboorteregistrasie volledige geboortesertifikate begin uitreik.

Malusi het daarop aangedring dat Suid-Afrika geen voorneme het om die nuwe reisregulasies te verander nie, en het gesê hulle staan by hul plan om teen die einde van die jaar met laat registrasie van geboortes weg te doen.

“Die meeste elemente van die nuwe regulasies werk goed,” het hy gesê.

“Dit is ten spyte van party oneweredighede met inligting, wat angs en traagheid met betrekking tot spesifieke aspekte van die nuwe regulasies verder vererger.”

SAPA