Die reeks in die kruisvuur is Cape Town, gegrond op Deon se roman, wat Woensdagaand die eerste keer op DStv se kanaal 117 (Universal) uitgesaai is.

Mat Joubert, die hoofkarakter in die reeks, word vertolk deur die Noorweegse akteur Trond Espen Seim, wat praat met ’n aksent wat Russies klink. Die Oostenryker Boris Kodjoe speel Benny Griessel.

Deon sê hy is baie trots op die reeks en kan nie help om te lag vir die kritiek oor plaaslike teenoor internasionale akteurs nie. Die reeks is teen ’n koste van miljoene euro’s vervaardig deur ’n Europese vervaardiger vir die internasionale mark. “Hoe op aarde moet hulle daardie geld probeer verhaal met verkope aan Europese, Britse en Amerikaanse uitsaaiers as hulle net plaaslike akteurs gebruik?”

Deon sê of ons as Suid-Afrikaners daarvan hou of nie, buitelandse uitsaaiers sal eenvoudig nie koop as dit net ons eie, onbekende talent is nie. “Hulle soek die sterre in hul land.”

“Buitendien, daar is meer as 30 plaaslike akteurs en aktrises in die reeks wat die kans kry om die wêreld te beïndruk.”

In een van die reaksies op Twitter het ene Darryl Radcliffe geskryf Saffa-akteurs moes in hoofrolle gebruik word. “Gee ons ouens ’n kans om te skyn.” Deon antwoord in Engels: “Edel, maar naïef. ’n Duur reeks benodig internasionale sterre om dit te verkoop. Meer as 35 van SA se bestes skitter in die reeks.”

In ’n resensie vroeër op Litnet is Feniks beskryf as “288 bladsye van louter genot.”