Daar is dalk binnekort ’n realistieser weergawe van ’n Barbie-pop beskikbaar – een wat wil wys dat ’n “gemiddelde” voorkoms ook mooi kan wees. Nickolay Lamm, ’n Amerikaanse kunstenaar het ’n pop, Lammily, ontwerp op grond van die gemiddelde liggaamsgrootte van 19-jarige Amerikaanse vroue. 

“Lammily bevorder realistiese skoonheidstandaarde omdat sy volgens tipiese menslike liggaamsproporsies gemaak is. Sy is fiks en sterk. Sy het styl en dra baie min grimering,”  verduidelik Nickolay in ’n video.

Ná sy eerste ontwerpe en animasie-projekte het Nickolay soveel positiewe terugvoer gekry dat hy besluit het om die pop te laat realiseer. Daarvoor soek hy nou geld deur middel van skarefinansiering.  “Ek het jul hulp nodig om die koste van die eerste vervaardigingslopie te dek sodat Lammily ’n realiteit kan word. (Dit sal help) dat ons dogters kan grootword om gelukkiger, sterker vroue te wees wat waarlik vol selfvertroue en trots oor hul eie liggaam is.”

Kliek hier om na ’n video te kyk wat wys hoe Lammily lyk.

Lammily staan in sterk kontras met die tradisionele Barbie-pop, wat onlangs weer in die nuus was nadat sy as ’n voorbladmodel op Sports Illustrated se jaarlikse swemdraguitgawe verskyn het.

Barbie foto in teks

Die langbeen-blondine is te sien in ’n klassieke wit-en-swart swembroek, soortgelyk aan die een waarmee die eerste Barbie meer as 50 jaar gelede verkoop is.

Die voorblad is te danke aan ’n advertensieveldtog, Unapologetic, waarmee die vervaardigers van die klassieke plastiekpop ’n positiewe boodskap aan vroue wil oordra: Jy hoef nie verskoning te maak vir wie jy is of hoe jy lyk nie. Heel eenvoudig, as jy lang blonde hare, ’n dun middeltjie en ellelange bene het, aldus die kritiek teen dié veldtog op Twitter. Mense meen die veldtog stel onrealistiese standaarde aan vroue oor hoe hulle behoort te lyk.

Barbie het in die verlede ook kritiek ontlok oor haar onrealistiese liggaamsbou, maar in ’n ope brief op haar webtuiste “skryf” Barbie sy wou nog altyd meisies inspireer: “My swembroek hang langs ’n president se snyerspak, ’n bakkershoed en ruimtevaarderstoerusting in my kas, wat weerspieël dat ek al meer as 150 loopbane beoefen het. Daarmee wil ek vir meisies die wêreld oor wys hulle kan enigiets bereik wat hulle wil.”

Wat dink jy van Barbie se voorblad? Sou jy ’n pop soos Lammily vir jou dogtertjie koop?

- Shané Barnard en Suzaan Hauman

Bronne: E! Online,Barbiecollector.com,Mashable.com