Afrikaanssprekendes het grootgeword met die snaakse stories en staaltjies van bobaas-storievertellers soos wyle Tolla van der Merwe en Jan Spies, wat elkeen hul eie geselsprogram op televisie gehad het.

[caption id="attachment_115641" align="alignnone" width="600"]Schalk Lingenfelder, beter bekend as Doringdraad, meen hy is gebore met komedie wat deur sy are pomp. Foto: Verskaf Schalk Lingenfelder, beter bekend as Doringdraad, vertel hy is met komedie wat deur sy are pomp gebore. Foto: Verskaf[/caption]

Schalk Lingenfelder, beter bekend as Doringdraad, meen hy is deel van die nuwe geslag Afrikaanse komediante wat hierdie tradisie van snaakse stories vertel wil voortsit.

Doringdraad vertel sy komedieloopbaan het in sy laat 40’s begin, maar dit skeel hom min. “Ek weet nie of dit my cool dance moves is nie, maar iets aan my skrik darem nie die mense af nie,” spot hy.

Trouens, Schalk meen hy is gebore met komedie wat deur sy are pomp. “As kind was my bynaam Sirkus omdat ek van kleins af altyd almal wou vermaak,” vertel hy gretig oor sy kinderdae.

Lees ook: Die boere én die kassie se gunstelingnooi nou van die mark af!

Doringdraad bedryf sy eie komedieagentskap waarby ander Afrikaanse komediante betrokke kan raak. Met sy komedietrawante van Take 5 Comedy Promotions toer hulle gereed na van Suid-Afrika se topfeeste soos Aardklop, Innibos en die Gariepfees.

[caption id="attachment_115642" align="alignnone" width="600"]Doringdraad is 'n gereelde gesig by Afrikaanse kunstefeeste, Foto: Facebook Doringdraad is 'n gereelde gesig by Afrikaanse kunstefeeste, Foto: Facebook[/caption]

“Kyk, wat baie mense nie besef nie, is dat komediante ook maar kunstenaars is,” vertel hy. “Nes sangers, werk ons hard aan nuwe materiaal vir ons aanhangers.”

Maar waar kry hy as ’n ou snaaksie sy inspirasie vir lagwekkende materiaal vandaan? “Jy sal nie glo hoeveel alledaagse gebeurtenisse laat mens lag dat die trane loop nie; daarom is ek vas oortuig daar lê ’n mate van humor in alles.”

Dis juis uit hierdie snaakse oomblikke wat hy elke dag op sy pad teëkom, dat hy die beste materiaal vir sy YouTube-video’s en eenmanvertonings put.

Al munt hy komedie uit dinge wat om hom gebeur, meen hy daar is sekere onderwerpe wat jy selfs nie as komediant moet aanspreek nie.

“Politiek en geloof. Jong, dis ’n baie fyn lyn wat ek nie graag oorsteek nie. Die publiek is baie sensitief vir hierdie onderwerpe en nie almal kan ’n grap vat nie.”

Een “sensitiewe onderwerp” wat hy wel geensins ontsien nie, is Afrikaanse mense se sportbeheptheid. Hy is ook nie skrikkerig om met ouer mense te spot of die gek te skeer met hoe moeilik die getroude lewe kan raak nie.

Lees ook: Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

“Ek is al vir 34 jaar getroud,” vertel hy. “Gelukkig met dieselfde vrou. Maar die publiek lag graag vir goed wat hulle ken en waarmee hulle kan vereenselwig.”

[caption id="attachment_115645" align="alignnone" width="600"]Schalk saam met sy vrou, Christa, met wie hy 34 jaar getroud is. Foto: Facebook. Schalk saam met sy vrou, Christa, met wie hy 34 jaar getroud is. Foto: Facebook.[/caption]

Schalk kom oorspronklik van die Oos-Rand, maar woon deesdae in die ooste van Pretoria. Hy beskou die “legendariese” Suid-Afrikaanse komediant Mel Miller as inspirasie sowel as die grapjas Leon Schuster.

Maar hoe voel dit wanneer jy as grapmaker jou snaaksste grappie op die verhoog vertel, en die gehoor lag glad nie? “Ag, ek beweeg net vinnig aan, want partykeer verstaan mense nie dadelik die grappie nie en lag eers later. Of ek hoop maar hulle snap my volgende een!”

“Om mense te sien lag is my grootste inspirasie. Want ’n mens wat lag, is ’n gelukkige mens.”

Tyd vir ’n grappie of twee:

Met die versengende hitte wat die laaste tyd landwyd heers, het Doringdraad met die ideale oplossing vorendag gekom as jou wederhelf jou vra om te braai al gaan draai die kwik daar by die 40 grade.

Hy deel graag sy snaaksighede op sy YouTube-kanaal, en het hierdie grappie spesiaal vir Huisgenoot-lesers opgeneem:

– Petrus Malherbe