Owerheid soek mense wat kontak met Ebola-pasiënt had Dit het bekend geword ’n misverstand in ’n hospitaal het veroorsaak dat hy aanvanklik weggewys is.

Weens ’n misverstand onder hospitaalpersoneel toe die man op 25 September behandeling gesoek het, is meer mense aan hom blootgestel, erken hospitaal-amptenare in Texas.

Ebola versprei deur nabye kontak met die liggaamsvloeistowwe van ’n besmette persoon, en kan slegs oorgedra word wanneer ’n pasiënt simptome toon, soos koors, pyn, bloeding, braking of diarree.

Die man – die eerste mens in Amerika by wie Ebola gediagnoseer is – het gereis van Liberië, die land wat die swaarste onder die uitbreking deurloop, en het op 20 September in Texas aangekom om by familie te kuier. Hy het op 24 September siek geraak.

Hy is die volgende dag hospitaal toe, maar is huis toe gestuur omdat die mediese span “gemeen het dis ’n algemene, laegraadse virussiekte”, sê Mark Lester, uitvoerende onderhoof van Texas Health Resources.

“Hy het genoem dat hy van Afrika gereis het nadat die verpleegster hom dit gevra het,” het Mark bygevoeg.

“Ongelukkig het die hele span nie daardie inligting gekry nie.”

In ’n verklaring deur die hospitaal sê hulle, sy aanvanklike simptome op 25 September was ’n “lae koors en maagpyn”, en “sy toestand het nie opneming geregverdig nie”.

Die pasiënt verkeer in ’n ernstige maar stabiele toestand.

Op 28 September het hy kontak met vyf skoolkinders gehad voor hy per ambulans na die Texas Health Presbiteriaanse hospitaal in Dallas gebring is en in streng afsondering geplaas is.

Die skole is geleë naby Vickery Meadows, ’n buurt met meestal immigrante waar die pasiënt by familielede tuisgegaan het.

“Die kinders is uitgeken en hulle word gemonitor; die siekte kan nie oorgedra word voor enige simptome verskyn nie,” sê Texas se goewerneur, Rick Perry.

Clara Sheard sê een van die leerders wat uit die skool geneem is, is ’n klasmaat van haar kleindogter, wat in gr. 7 is.

“Toe ek ná skool met haar praat, het sy my vertel een van die leerders van Afrika is uit die skool gehaal en hy sal nie terugkeer nie,” het Clara gesê.

Talle leerders aan die Hoërskool Emmet J. Conrad, waar ’n leerder huis toe gestuur is, het gesê hulle is bewus van die Ebola-epidemie in Afrika, maar is verbaas om te hoor dis nou naby aan hulle.

“Ek het nie paranoïes geraak nie,” het die gr. 11-leerder Jazmin Edward gesê. “Ons onderwysers het gesê ons moet ons hande was en van mense wegbly; dis wat ek gaan doen.”

Die hoërskool het ouers laat weet die kind toon geen simptome nie.

Die inkubasietydperk vir Ebola is tussen twee en 21 dae. Pasiënte is nie aansteeklik nie tot hulle simptome begin toon. Ebola kan lei tot massiewe bloeding en lewensgevaarlike orgaanversaking.

’n Span van 10 mense van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming het in Texas aangekom om met die ondersoek te help.

Terwyl gesondheidskenners sê die publiek moet kalm bly, is mediese personeel op die uitkyk na nog Ebola-gevalle in Amerika.

Drie lede wat in die ambulans gewerk het wat die pasiënt vervoer het, het negatief getoets, maar hulle sal 21 dae gemonitor word, sê Dallas se stadsraad.

Anthony Fauci, die hoof van die Nasionale Instituut vir Allergie en aansteeklike siektes, sê die man moes van meet af aan as ’n moontlike Ebola-geval behandel geword het.

Die Liberiese gemeenskap in die Dallas-gebied is bekommerd oor die aankoms van Ebola in Amerika, maar het steeds vertroue in die mediese owerheid, sê Alben Tarty, ’n woordvoerder vir die Liberiese Gemeenskapsvereniging van Dallas-Fort Worth.

Terwyl Amerikaanse amptenare nou mense probeer opspoor, het die Ebola-sterftesyfer sedert begin vanjaar wêreldwyd tot 3 338 toegeneem (7 178 mense is al aangesteek), sê die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Bron: Sapa-AFP /kd