Volgens Karyn Maughan van eNCA het die nuwe OB, advokaat Busisiwe Mkhwebane, Vrydagmiddag hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin sy sê sy sal haar neerlê by wat ookal die hof besluit.

Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, het die “staatskaping-verslag” verlede Vrydag op die laaste dag van haar ampstermyn gefinaliseer. Madonsela het Vrydag getwiet dat sy nie verwag het om haarself in haar eerste week nadat sy uitgetree teen “twyfelagtige aanvalle” te verdedig nie.
Dit kom na verskeie uitsprake wat Mkhwebane hierdie week gemaak het wat skynbaar krities oor Madonsela was en die indruk gewek het dat sy haarself van Madonsela wil distansieer. Mkhwebane sê in die hofstukke sy het nog nie tyd gehad om die verslag en die implikasie daarvan in diepte te bestudeer nie. Sy sê ook haar regsadvies dui daarop dat die stappe wat in die verslag aanbeveel word verrykende gevolge kan hê.

Dis om dié rede dat sy die aansoek van die president om die uittreiking van die verslag te keer nie teenstaan nie.

Sy het ook gesê die hof moet besluit of die president en Des van Rooyen, die minister van samewerkende regering, die ander applikant in die saak, meer tyd moet hê om vertoë tot die OB te rig. Sy sê ook sy is onseker of sy die verslag wat deur haar voorganger gefinaliseer is, kan aanpas.

Sy is ook bereid om die verslag aan die hof beskikbaar te stel indien die hof dit sou aanvra.