Die ma van Oscar Pistorius se meisie glo haar dogter was van plan om die atleet te verlaat toe hy haar doodskiet. Oscar is skuldig bevind aan Reeva se strafbare manslag en is vyf jaar tronkstraf opgelê.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - NOVEMBER 04, Oscar Pistorius and Reeva Steenkamp during the Our Nations Pride / SA Sports Awards Gala Dinner at Sandton Convention Centre on November 04, 2012 in Johannesburg, South AfricaPhoto by Lefty Shivambu / Gallo Images

June Steenkamp, die 29-jarige model Reeva Steenkamp se ma, het ook aan die Britse koerant The Times gesê beelde van die skietvoorval spook by haar en haar man, Barry.

“Haar klere was gepak. Daar bestaan geen twyfel by ons nie: Sy het besluit om Oscar daardie aand te verlaat,” het sy in haar nuwe boek geskryf, wat in The Times as ’n vervolgverhaal aangebied word. Sy het bygevoeg haar dogter het aan haar erken dat sy nog nie intiem met Oscar was nie en was “bang om die verhouding tot daardie vlak te voer”.

Oscar, die eerste dubbele geamputeerde Paralimpiese atleet om aan die Olimpiese Spele deel te neem, het gesê hy het Reeva vier keer deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet omdat hy geglo het sy is ’n inbreker.

In Reeva: A Mother’s Story, het June geskryf dat sy geskok was dat Oscar net skuldig bevind is aan strafbare manslag.

Sy het hom beskryf as “arrogant”, “buierig”, “onbestendig” en “plofbaar”, en dat hy ’n vuurwapen-liefhebber was wat besitlik oor haar dogter was.

“Dit was Reeva se slegte geluk dat sy hom ontmoet het, want hy sou die een of ander tyd iemand doodgemaak het,” het sy bygevoeg.

Albei ouers sukkel met “die beeld van Reeva wat hierdie aaklige trauma ervaar het”, het sy aan die koerant gesê. “Haar vrees en hulpeloosheid. Hulle hulpkreet wat die stille naglug deurdring.”

Opbrengste van die boek se verkope sal die familie se geldelike probleme help verlig. Dit sal ook fondsinsameling help vir ’n stigting vir mishandelde vroue in Suid-Afrika, sê June, wat in Engeland gebore is.

“Ek dink sy sou wou hê dat ons ’n bietjie geld het,” het sy gesê. “Stel jou voor jy gaan hierdie trauma, lyding en pyn deur en het nie geld nie. Soms is daar ook nie eens kos nie.”

Maar geldelike sekerheid sal nie die pyn van hul verlies verlig nie, het sy bygevoeg.

“Ons kan oor ’n paar goed lag,” het June aan die Times gesê. “Dit is nie asof ons heeltyd ellendig voel nie. ’n Mens kry net so ’n skerp pyn in jou hart.

“Dit is altyd daar; die oomblik dat jy jou oë in die oggend oopmaak, of as jy in die middel van die nag wakker skrik.”