In Suid-Afrika wag vroue gemiddeld 6.8 jaar ná hul troudag voor hulle kul en ’n affair het.

Die gemiddelde ouderdom van hierdie egbrekers is 35,8 jaar, volgens navorsing deur Victoria Milan, die wêreld se voorste webtuiste waar mense kan kontak maak met ander wat hulle wil verlustig in buite-egtelike verhoudings.

Die steekproef is oor verskeie kontinente, lande en ouderdomme gedoen.

“Wat leer hierdie syfers ons?” vra Sigurd Vedal, stigter van Victoria Milan. “Dat vroue wêreldwyd gemiddeld sewe tot agt jaar ná hul troudag na ’n nuwe minnaar vry.

“Getroude vroue begin om verskeie redes met affairs. Dalk gee hul man hulle nie genoeg aandag of die respek wat hulle verdien nie. Dalk is hulle nog lief vir hul maat, maar die vonk het uit hul huwelik verdwyn.

Daar is ook diegene wat ’n oop huwelik het, waarin albei affairs het om hul fisieke behoeftes te bevredig terwyl hulle steeds ’n hegte emosionele band het.

Hoe dit ook al sy, ’n affair kan getroude vroue help om hul lus vir die lewe te herontdek,” meen die Noorweegse kullery-miljoenêr.

Die verskille in ouderdom van verkullers verskil heelwat tussen lande. In die Verenigde Koninkryk is die meeste vroue (30 persent) wat buite die huwelik vry byvoorbeeld tussen die ouderdom van 25 en 29.

In Finland is dié syfer net die helfte soveel. Daar is die meeste egbrekers “meer volwasse” – in hul dertigs. In die meeste ander lande is die vroue ook ouer.

In Spanje is die gemiddelde ouderdom byvoorbeeld tussen 40 en 44 en in Hongarye tussen 45 en 49.

Hoe lank vroue wag voor hulle oënskynlik groener weivelde gaan soek, verskil ook baie tussen lande.

Die kortste tydperk in Europa is in Ierland, waar vroue net 3,6 jaar wag voor hulle oor die tou trap. In Amerika wag hulle 8,5 jaar. Die gemiddelde tydperk van getrouheid in ’n huwelik wêreldwyd is 7.6 jaar.

’n Mens wil dan onwillekeurig vra: “Hoekom trou mense dan?” Maar troos jou daaraan: Dit geld nie in die algemeen nie.

Hierdie syfers kom per slot van sake van mense wat inteken op ’n diens wat hulle help om buite-egtelike verhoudings te hê . . .