[caption id="attachment_166465" align="alignnone" width="600"]Foto: Pexels Foto: Pexels[/caption]

As ons ná werk by die huis kom, spring jou hond gewoonlik opgewonde voordeur toe, terwyl dit lyk asof jou kat glad nie gepla is nie.

Maar ná jare se onregverdige stereotipering dat hulle hoogmoedig en selfsugtig is, het die wetenskap ons eindelik laat verstaan wat in die kat se kop aangaan.

En dit lyk asof hul yskoue houding eintlik niks anders nie as toneelspel is.

Volgens navorsing wat aan die Oregon Staatsuniversiteit in Amerika gedoen en onlangs gepubliseer is in die tydskrif Behavioural Processes, wat die gedrag van diere verklaar, is wetenskaplik bewys katte is inderwaarheid lieftallige diere.

In die studie het dit uitgekom katte hou meer van interaksie met mense as van eet.

Navorsers het vir die doel van die studie 50 katte – uit skuilings en uit mense se huise – ure lank sonder kos, speelgoed en enige interaksie met mense gelaat.

Toe bied hulle die katte vier verskillende soorte stimulasie: menslike interaksie, kos, reuke en speelgoed en hulle maak ’n opname van die tyd wat die katte aan elke aktiwiteit bestee het.

Die navorsers het op die ou end al vier soorte stimulasie tegelykertyd aan die diere gebied en hulle toegelaat om hul gunsteling te kies. Elke kat is in die middel van ’n kruis geplaas, omring deur sy gunsteling uit elk van die vier stimuli, en hy kon vryelik loop waar hy wou.

Die bevinding was hoewel hul gedrag verskil het, die meeste katte verkies het om met mense te sosialiseer, eerder as om kos te eet.

Die meeste van die katte in die proefneming het na die aandag van mense gesmag teenoor enige ander stimuli, terwyl slegs 37 persent kos verkies het.

Die navorsing het ook getoon geen merkbare verskille bestaan tussen huiskatte en dié wat uit skuilings kom nie. Dit beteken dat katte, of hulle nou ’n huis het of nie, liefde meer as enigiets anders begeer.

“Daar is wel voorgestel dat sosialisering van katte uit ’n onafgebroke proses bestaan, wat moontlik verdraai is in die rigting van onafhanklikheid,” was die mening van die skrywers van die studie.

“Ons het gevind dat 50 persent van die katte wat getoets is, interaksie met die sosiale stimulus verkies het, hoewel hulle ’n direkte keuse gehad het tussen sosiale interaksie met ’n mens en hul gunsteling uit die ander drie stimuluskategorieë.”

Daar het julle dit. Jou skynbaar selfsugtige kat gaan moontlik jou liefdevolle vryf onder sy ken bo sy kos verkies.

Bronne: telegraph.co.uk, independent.co.uk, dailymail.co.uk, motherboard.vice.com