Wat steek in ’n naam? wou die dramaturg William Shakespeare se karakter Juliet eeue gelede by haar minnaar, Romeo, weet.

venterstroom

Maar in die omgewing van Potchefstroom en Ventersdorp in Noordwes loop gemoedere deesdae hoog oor dieselfde vraag.

Nadat die Tlokwe-munisipaliteit in Potchefstroom en dié van Ventersdorp in Augustus 2016 op ’n hoogs omstrede wyse moes saamsmelt, moet ’n naam vir die nuwe munisipaliteit gevind word.

Inwoners het tot verlede week tyd gehad om voorstelle in te dien. Dit kon na ’n spesiale e-posadres gestuur word of in houers by munisipale geboue geplaas word, verduidelik die munisipale woordvoerder van die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit, Willie Maphosa.

“Meer as 800 voorstelle is ontvang. Die proses het verlede week gesluit en ’n kortlys van name sal binnekort bekendgemaak word,” sê hy.

Intussen het ’n Afrikaanse dagblad dié week berig dat van die voorstelle wat van die publiek ontvang is, name insluit soos Venterpotch, Mooinoka, Taaiboschbult, Flenterstroom, JB Marks en Josie Mpama.

Maar Willie sê dit is net bespiegelings. “Stap deur die strate en elke mens sal vir jou sê wat hulle dink die nuwe naam moet wees. Feit is, die Tlokwe-Ventersdorp-raad moet nog eers na al die voorstelle kyk voor ’n amptelike kortlys opgestel word vir oorweging. Ons voer ’n deursigtige proses waarin al die inwoners geken sal word.”

Daar is wel mense wat vermoed dat dié proses net ’n rookskerm is om inwoners om die bos te lei.

Hans-Jurie Moolman, ’n prokureur van Potchefstroom en DA-koukusvoorsitter in die Tlokwe-Ventersdorp-raad, is een van hulle.

“Nog voor die publiek se insette gevra is, het ek van ’n baie betroubare bron hoog op binne die munisipaliteit gehoor hulle het reeds besluit om die munisipaliteit na JB Marks te noem,” vertel hy.

Marks is in 1903 op Ventersdorp gebore en in 1933 as die SAKP se sekretaris aangestel. Hy het in 1971 in Rusland weens ’n hartaanval gesterf en is in 2015 in Potchefstroom herbegrawe.

Willie ontken Hans-Jurie se bewering en sê ’n “amptelike aankondiging van die nuwe naam kan nie vooruitgeloop word nie”.