Die jongste syfers oor misdaad in Suid-Afrika is bekend, en hoewel dit nie in alle aspekte so droewig is soos kenners voorspel het nie, is daar tog areas wat inwoners snags kan laat wakker lê.

Jou kans om ’n motorkaping te beleef, is vanjaar byvoorbeeld 14,3 persent hoër, en in al die provinsies buiten die Vrystaat is dié syfer op. Ook moord het landwyd met 4,9 persent gestyg, maar die goeie nuus is dat huisbrake landwyd met 1,2 persent afgeneem en net in die Noord-Kaap toegeneem het. Die getal misdade wat landwyd aangemeld is, is ook laer as verlede jaar. In totaal was daar ’n kommerwekkende 2,1 miljoen misdade, en dis net dié wat wel aangemeld is.

Nathi Nhleko, minister van polisie, het die jongste syfers Vrydagoggend by die parlement in Kaapstad bekendgemaak en gesê Suid-Afrika ervaar ’n afname in die oorhoofse misdade. Een van dié, kontakmisdaad, hou wel aan met styg. “Dit sluit moord, seksuele oortredings soos verkragting en aanranding in en is ook die misdade wat deur die meeste Suid-Afrikaners gevrees word.”

DIE SLEUTELSYFERS IS:

? 35,2 persent van die 2,1 miljoen misdade wat aangemeld is is kontakmisdaad. ? Seksuele oortredings het landwyd met 3,2 persent afgeneem en in sewe van ons nege provinsies is dié syfer laer. Net in Limpopo en die Noord-Kaap het dit toegeneem. “Dié misdade gebeur dikwels binnenshuis en tussen mense wat mekaar ken. Daar is ook dikwels alkohol betrokke,” het die polisie opgemerk. ? Aanranding is in die Wes-Kaap en Gauteng die algemeenste, waar dit onderskeidelik met 5,5 en 3,1 persent gestyg het. In Gauteng is 44 255 gevalle aangemeld. ? Daar is ook rondom 5 000 meer motorkapings in Gauteng as in die ander provinsies. Altesaam 7 367 gevalle is aangemeld, terwyl daar byvoorbeeld in die Wes-Kaap 2 032 gevalle en in Mpumalanga 629 was. Dis net in die Vrystaat waar motorkapings minder geraak het.

? Jou kans om beroof te word is ook in ses van die nege provinsies hoër, hoewel dit die afgelope dekade as ’n geheel met ’n hele 23 persent afgeneem het.

? Uit die 2,1 miljoen misdade wat aangemeld is, was 1,7 miljoen danksy mense wat dit aanmeld. Die res is deur die polisie oopgevlek.

? Daar is 19,3 persent meer huisbrake in die Wes-Kaap, en bankrooftogte het met ’n volle 64,7 persent gedaal. Die polisie skryf dit toe aan kubermisdaad wat meer raak en skelms wat deesdae aanlyn bedrog en kommersiële misdrywe verkies. Dié is met 3,1 persent op.

Nadat die syfers bekendgemaak is, het die polisie uitgebrei op hul “back-to-basics”-strategie en gesê dit fokus op verbeterde binnewerkinge in die polisie, op misdaadvoorkoming en op die ondersoek van misdaad.