Die minimum loon vir huiswerkers sal van volgende maand af verhoog, het die minister van arbeid, Mildred Oliphant, Vrydag bekendgemaak.

Vanaf 1 Desember sal die minimum loon vir dié wat meer as 27 uur per week in stede werk, R9,63 per uur wees en dié van hul eweknieë op die platteland en kleiner dorpe R8,30, het haar departement in ’n verklaring gesê.

Die nuwe minimum loon vir huiswerkers wat meer as 27 uur per week werk, is R9,63 per uur, R433,35 per week (vir ’n week van 45 uur) en R1 877,70 per maand (vir ’n week van 45 uur) in Streek A.

In streek B is dit: R8,30 per uur, R373,50 per week (vir ’n week van 45 uur) en R1 618,37 per maand (vir ’n week van 45 uur).

Streek A is alle stadsmunisipaliteite, soos onder meer Oos-Londen, Pretoria, Witbank en Johannesburg. Streek B sluit die munisipaliteite in wat nie by Streek A ingesluit word nie.

Die loonaanpassing was deel van ’n jaarlikse bindende bepaling wat die minister kragtens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes maak.

Volgens die verklaring sal die minimum loon van huiswerkers wat 27 uur of minder per week werk soos volg styg:

-- in Streek A: R11,27 per uur, R304,29 per week (vir ’n week van 27 uur) en R1 318,48 per maand (vir ’n week van 27 uur); en,

-- in Streek B: R9,80 per uur, R264,60 per week (vir ’n week van 27 uur) en R1 146,51 per maand (vir ’n week van 27 uur).

Verlede jaar (2012) se uurlikse koerse was R8,95 vir Streek A en R7,65 vir Streek B.

Die departement het gemaan huiswerkers mag kragtens die wet nie verplig word om meer as 45 uur per week; meer as nege uur per dag vir ’n werkweek van vyf dae; of meer as agt uur per dag vir ’n werkweek van ses dae te werk nie.

“Oortyd moet betaal word teen een en ’n half keer die werknermer se gewone loon of ’n werknemer mag instem om betaalde tyd vry te kry,” het die departement gesê.

Sapa